Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Nuwe virusgevalle in NW neem af
Die Maseve-veldhospitaal in Noordwes kort nadat dit vroeg in Julie geopen het. Foto: Verskaf

In Noordwes is daar nou ’n duidelike afname in die getal nuwe koronavirusgevalle wat daagliks aangemeld word.

Tot onlangs was daar daagliks ’n paar honderd nuwe gevalle, soos op 1 Augustus toe 431 nuwe gevalle aangemeld is. Volgens die jongste beskikbare statistieke was daar teen Dinsdagaand 99 nuwe gevalle.

Tebogo Lekgethwane, woordvoerder van Noordwes se gesondheidsdepartement, sê die geleidelike afname in nuwe gevalle die afgelope twee weke, is moontlik omdat mense die siekte al hoe ernstiger opneem en gevolglik beter voorsorg tref.

Teen Dinsdagaand het die provinsie 22 031 bevestigde gevalle gehad, van wie 12 486 mense reeds herstel het. In dié provinsie is 150 mense dood aan die virussiekte.

Die Bojanala-distrik, wat die Rustenburg- en Brits-omgewing insluit, het verreweg die meeste gevalle (12 210) en die Dr. Kenneth Kaunda-distrik, wat die Klerksdorp-omgewing insluit, die naasmeeste (6 067).

Die betreklik baie gevalle hier word toegeskryf aan die baie gevalle in myne in die betrokke gebiede.

Volgens Lekgethwane behoort bouwerk aan ’n veldhospitaal reg langs die Job Shimankana Tabane (JST)-hospitaal in Rustenburg teen einde vandeesmaand te begin.

Netwerk24 het in Julie berig bouwerk aan dié veldhospitaal het nog nie begin nie.

Ngwako Motsieng, nog ’n woordvoerder van Noordwes se gesondheidsdepartement, het toe gesê daar is geen vertraging nie.

“Ons het in Mei begin met die beplanning vir nog 500 beddens in veldhospitale in die Bojanala-distrik. Die tender en administratiewe prosesse sal hierdie week nog afgehandel word. Die een veldhospitaal met 300 beddens sal by die JST wees, en die ander 200 beddens by die Moses Kotane-hospitaal (ook in die Rustenburg-omgewing).”

Hooggeplaastes vroeg in Julie tydens die opening van die Maseve-veldhospitaal in Noordwes. Foto: Verskaf

Noordwes se gesondheidsdepartement het verlede week ’n verskoning geëis van die DA nadat Siviwe Gwarube, DA-LP en die party se woordvoerder oor gesondheid, in ’n twiet beweer het geen bouwerk is nog gedoen by die Maseve-veldhospitaal naby Rustenburg nie. In haar twiet verwys sy daarna dat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, in Junie gesê het bouwerk aan dié hospitaal is 90% voltooi.

Gwarube het egter die Maseve-veldhospitaal met 200 beddens wat reeds in Julie amptelik oopgemaak het, verwar met die veldhospitaal by die JST-hospitaal wat nog gebou moet word. Noordwes se gesondheidsdepartement het met verontwaardiging gereageer op Gwarube se bewering, en daarop gewys dat die Maseve-hospitaal sedert 1 Julie ten volle in bedryf is. Dié hospitaal is ’n gesamentlike projek van die provinsiale gesondheidsdepartement en die Royal Bafokeng-platinummyn. Meer as 50 pasiënte is onder kwarantyn in dié hospitaal.

Gwarube het in reaksie oor die verwarring gesê sy is jammer dat haar twiet nie duidelik nie “en dubbelsinnig was”.

Gwarube meen egter dis steeds jammer Mkhize het nie dié voorval as ’n geleentheid gebruik om meer inligting te verskaf oor hoe bouwerk aan die veldhospitaal by die JST-hospitaal vorder nie.

“Hoekom is dit nog nie klaar nie? Waarvoor was die afgelope vyf maande bedoel, indien dit nie vir voorbereiding was op die hoogtepunt van infeksies nie?”

Meer oor:  Koronavirus  |  Siviwe Gwarube  |  Noordwes  |  Covid-19  |  Virusgevalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.