Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
NW se nuwe hoof van gesondheid ‘nooit aangekla, skuldig bevind’

Die nuwe hoof van Noordwes se gesondheidsdepartement is nog nooit voorheen geskors, strafregtelik aangekla of in ’n tugverhoor aan wangedrag skuldig bevind nie.

So het Tebogo Lekgethwane, departementele woordvoerder, Woensdag teruggekap ná die DA se kritiek oor Obakeng Mongale se onlangse aanstelling. Dis die eerste keer dat ’n departementshoof vas aangestel is sedert die omstrede vorige departementshoof, dr. Thabo Lekalakala, in 2018 weg is.

Hy is in ’n tugverhoor daaraan skuldig bevind dat hy gejok het oor sy ervaring toe hy aangestel is, asook van geldelike ongerymdhede. Hy word strafregtelik aangekla van bedrog van sowat R30 miljoen. Dié geld is na bewering aan die Mediosa-maatskappy betaal vir mobiele kliniekdienste in Noordwes, nog voordat hulle enige werk gedoen het. Die kontrak is intussen beëindig. Lekalakala ontken enige ongerymdhede.

Obakeng Mongale, nuwe hoof van Noordwes se gesondheidsdepartement.

Die DA het teen dié agtergrond gesê die party is “bekommerd” dat Mongale nou aangestel is terwyl ook hy glo vroeër onder ’n wolk van omstredenheid by die provinsiale regering weg is. Hy is volgens die DA by tenderongerymdhede betrek toe hy tevore hoof van Noordwes se departement van openbare werke was.

Volgens Lekgethwane het Mongale die provinsiale regering se diens reeds in 2013 verlaat.

“Al die kandidate vir die pos (as gesondheidshoof) is in hul onderhoude gevra of hulle al enige strafregtelike sake teen hulle gehad het, of hangende tugprosesse.”

Volgens Lekgethwane was Mongale van Mei 2006 tot Mei 2009 hoof van die departement van openbare werke, waarna hy na die departement van openbare veiligheid oorgeplaas is.

“Sy tweede termyn in dié amp het einde Maart 2010 geëindig. Mnr. Mongale is teen einde 2010 as hoofdirekteur van hospitaaldienste in die provinsie aangestel. Hy en van sy kollegas is gedurende die 2011-’12-boekjaar intern aangekla, maar mnr. Mongale is ’n jaar later steeds nie aan ’n tugverhoor onderwerp nie.”

Lekgethwane het nie meer inligting gegee oor die aard van die klagtes teen Mongale nie.

Dr. Thabo Lekalakala, voormalige hoof van Noordwes se gesondheidsdepartement. Foto: Argief

Noordwes se provinsiale regering het hom aan die begin van 2013 gevra om waar te neem as hoof van die departement van menslike nedersettings, sê Lekgethwane.

“Indien die provinsiale regering regtig gedink het die klagtes teen hom is gegrond, sou hulle hom nie weer so ’n groot verantwoordelikheid gegee het nie. In die lig hiervan hou ons vol mnr. Mongale se aanstelling is wettig en in ooreenstemming met alle openbare diensregulasies en -voorskrifte.”

Lekgethwane sê tensy nuwe inligting na vore kom, is daar geen wettige rede tydens die plasing van die advertensie en onderhoude vir die gesondheidshoofpos om Mongale se aanstelling te stop nie.

Madoda Sambatha, LUR vir gesondheid in Noordwes, het kort ná Mongale se aanstelling gesê dis ’n “mylpaal” sedert Lekalakala se vertrek. “Die nuwe departementshoof het wye ervaring op bestuursvlak, asook van die departement van gesondheid, omdat hy tevore hoof van regeringsdepartemente was. Ons wens hom die beste toe en vra dat ander hom sal ondersteun.”

Meer oor:  Tebogo Lekgethwane  |  Obakeng Mongale  |  Noordwes  |  Gesondheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.