Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
NWU help skole só om kinders ‘tjop-tjop’ te sif

Tjop-tjop.

Dís die naam van ’n selfoon-app wat ingenieurs aan die Noordwes-Universiteit (NWU) ontwikkel het om die siftingsproses vir Covid-19-simptome onder skoolkinders te versnel en te vergemaklik.

Prof. Leenta Grobler, projekleier en spesialis in gesondheidsverwante ingenieursinnovasie aan die NWU, is self die ma van drie skoolkinders. Sy het Vrydag gesê sy kan haar net indink hoe moeilik dit sal wees wanneer kinders terugkeer skool toe en almal moet in ’n lang tou staan om deur die siftingsproses op ’n klaslys te gaan.

“Hoe gaan ’n mens laerskoolkinders in die winter laat stilstaan terwyl deur die lang lys name gewerk word? Dit gaan ’n ewigheid neem. Die Gautengse onderwysdepartement het reeds aangekondig sifting moet drie keer deur die skooldag gedoen word.”

Prof. Leenta GroblerFoto: Verskaf

Die nasionale onderwysdepartement het vandeesweek aangekondig kinders sal geleidelik terugkeer na skole landwyd, met gr. 7- en gr. 12-leerlinge eerste op 1 Junie.

Die gefaseerde terugkeer na skole vereis die verpligte daaglikse sifting en die aanteken van almal wat die perseel binnegaan. Die proses en inligting wat met die sifting verkry word, moet gedokumenteer, sentraal gestoor en met gesondheidsowerhede gedeel of by hulle aangemeld kan word. Baie min skole het waarskynlik die vermoë om deeglike sifting te doen van elke leerling wat die skoolterrein binnegaan.

Grobler sê die NWU-ingenieurs het daarom ’n plan bedink om die proses te vergemaklik, te versnel en te verbeter. Dit behels die digitalisering van die siftings- en datavasleggingsproses met die hulp van net ’n Android-gedrewe selfoon-app en ’n kommersieel beskikbare digitale infrarooi-termometer.

Grobler verduidelik die eerste stap is dat elke mens wat ’n bepaalde perseel mag betree, ’n identifikasieskyfie met ’n QR-kode kry. Dit bevat inligting soos die persoon se identifikasienommer, naam, graad en hoedanigheid soos onderwyser, ouer of departementsamptenaar.

Alle toegangspunte tot die perseel kry ’n “vasleggingstasie”. Wanneer die persoon met sy of haar identifikasieskyfie hier aanmeld, word dit met die selfoon-app geskandeer. Die persoon se temperatuur word dan met die termometer geneem. Die selfoon word vóór die termometer gehou, wat die syfer deur middel van die app skandeer sodat dit nie met die hand ingevoer hoef te word nie. Inligting oor of die persoon ’n masker gekry het en of hulle hul eie dra, word ook gestoor.

Indien die persoon se temperatuur nie binne die normale grense val nie, verskyn ’n waarskuwingsboodskap op die selfoon. Dit word na die betrokke skool of instelling se gesondheids- en veiligheidsverteenwoordiger gestuur.

Al die inligting word op ’n webtoegangspoort gestoor waartoe die instelling toegang het.

Volgens Grobler wil hulle die app gedurende die eerste week nadat die skole heropen het, by skole in onderskeidelik Klerksdorp, Rustenburg en Potchefstroom toets. Dié toetsings sal gratis wees, maar die NWU wil die lisensie vir die tegnologie dan “aan ’n geskikte vennoot oordra” om dit te kommersialiseer en bemark.

Grobler sê die siftingspakket sal ook baie nuttig wees by enige ander instellings waar gereelde sifting verpligtend is. Dit behoort ook bekostigbaar te wees.

“By elke vasleggingstasie is net een selfoon en termometer nodig. Indien jy nie reeds ’n Android-selfoon het nie, sal ’n nuwe een jou tussen R1 000 of R1 500 kos, maar dit kan selfs goedkoper op grootmaat wees. Dieselfde geld termometers wat sowat R1 500 kos indien jy net een koop.”

Grobler sê indien jy reeds genoeg selfone en termometers het, sal die gebruik van die tegnologie en program wat die NWU ontwikkel het, skole na alle waarskynlikheid R1 per kop per maand kos vir elke persoon wat ’n identifikasieskyfie kry. “Ons bereken nog die finale kostemodelle. Mense laai die app gratis af, maar betaal wel vir die program wat ons ontwikkel het om die siftingsinligting op die betrokke instansie se webtoegangspoort te stoor en verwerk.”

Meer oor:  Virus  |  Siftingstoetse  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.