Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
O-Kaap kry 129 ambulanse ‘om nood te help verlig’
Die Premier van die Oos-Kaap, Lubabalo Oscar Makhonyane, pas nadat hy en Sindiswa Gomba, LUR vir gesondheid (in die oranje bloes), die lint geknip het vir die oorhandiging van die ambulanse. Foto: Verskaf

Slegs 2% van die personeel van die Oos-Kaap se provinsiale nooddienste is opgelei in gevorderde lewensondersteuning, en slegs 21% in intermediêre lewensondersteuning.

Lubabalo Makhonyane, die premier van die provinsie, het dié skokkende syfers Donderdag bekend gemaak tydens die oorhandiging van 129 nuwe ambulanse aan die departement van gesondheid in Bhisho.

“Dié personeel verrig noodsaaklike dienste, hulle het ’n plig om lewens te red. Ek is bly dat die departement hard daaraan werk om te verseker dat die nooddienspersoneel nog verdere opleiding kan ontvang.

“Die departement moet beurse beskikbaar stel sodat die betrokke personeel die nodige verdere kennis en vaardighede kan behaal.”

Makhonyane sê een van die belangrikste prioriteite vir die provinsiale regering in die sesde termyn is om universele toegang tot mediese dienste in die Oos-Kaap beskikbaar te maak.

“Die meeste van ons provinsie se mense woon in verafgeleë landelike gebiede en dit is gevolglik uiters moeilik vir hulle om mediese sorgsentrums te bereik weens die tekort aan mediese voertuie in hul gemeenskappe.

“In sommige gevalle sterf hulle terwyl hulle wag op dié noodsaaklike diens,” het hy gesê.

Die ANC glo daarin dat elkeen van ons geregtig is op ’n lewe en om voldoende mediese dienste te ontvang.
Lubabalo Makhonyane

“Die ANC regering in die Oos-Kaap wil dié stand van sake omdraai, want ons glo daarin dat elkeen van ons geregtig is op ’n lewe en om voldoende mediese dienste te ontvang.

“Mense in landelike gebiede is nie minder mens as dié in stedelike gebiede nie, daarom verdien hulle ook nood- mediese dienste op die drumpel van hul tuiste,” het hy bygevoeg.

Die Oos-Kaap is ver agter wat betref die beskikbaarheid van ambulanse. Volgens die norm van een ambulans per 10 000 mense, word daar van die provinsie verwag om te alle tye 660 ambulanse in diens te hê.

“Ons is hoofsaaklik so ver agter die norm omdat baie van ons noodvoertuie buite werking is weens meganiese probleme,” sê Makhonyane. Hy hoop die 129 ambulanse – die eerste van 305 nuwe noodvoertuie – sal die situasie verlig.

“Dié noodvoertuie sluit in ambulanse, nood-reaksievoertuie, pasiëntvervoer en reddingsvoertuie.”

Makhonyane het diegene wat die ambulanse sal beman, versoek om altyd die hoogste vlak van professionaliteit te handhaaf. “Moenie iets doen wat die lewens van ons mense in gevaar mag stel nie.

“Ons hoor met tye van wangedrag en nalatigheid van bestuurders, van beweringe dat voertuie – met pasiënte in – roekeloos op gruispaaie bestuur word.

“Dit skep risiko’s wat ons kan dwing om aanboordkameras te laat installeer sodat vasgestel kan word presies wat binne in die betrokke voertuig aangaan.”

Meer oor:  Oos-Kaap  |  Ambulanse  |  Nooddienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.