Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
O-Kaap ondersoek weggooi-toetsstelle

Die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement het met ’n ondersoek begin nadat verskeie koronavirustoetsstelle Maandag langs ’n gedeelte van die N2 in die provinsie aangetref is.

Die toetsstelle is tussen Oos-Londen en King William’s Town deur ’n verbyganger op die grond aangetref.

Sizwe Kupelo, woordvoerder vir die provinsiale gesondheidsdepartement, sê die voorval is ’n saak tussen ’n koeriermaatskappy en die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS), maar die departement probeer tans antwoorde kry oor hoe die toetsstelle langs die pad beland het.

“Ons werk tans saam met (die twee partye) om die feite vas te stel oor wat presies gebeur het, want dit blyk die items was besig om vervoer te word, buite ons fasiliteite,” sê Kupelo.

“Die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens, asook die koeriermaatskappy wat hulle gebruik het, sal hierop moet antwoorde gee.”

Die DA, wat reeds ’n geruime tyd die afdanking van Sindiswa Gomba, LUR vir gesondheid in die Oos-Kaap eis, sê dié voorval dui op die “totale chaos” wat in die Oos-Kaap ontvou.

“Terwyl ek deur die Oos-Kaap beweeg, raak dit duidelik dat meer mense hul lewe sal verloor, indien daar nie dringende optrede is nie,” lui ’n verklaring van Siviwe Gwarube, DA-LP en die party se woordvoerder oor gesondheid.

In die Oos-Kaap is 26 195 positief getoets vir die virus, terwyl 397 mense in die provinsie reeds aan Covid-19 dood is.

“Dit is eenvoudig nie goed genoeg vir (dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid) om ’n paar mense vir ondersteuning na die provinsie te stuur nie,” sê Gwarube.

Mkhize het op ’n besoek aan Port Elizabeth verlede week gesê nog senior amptenare sal binnekort in die provinsie ontplooi word, as ondersteuning aan die gesondheidsdepartement. Hy het Sondag in ’n verklaring die stelling herhaal deur te sê ervare en senior bestuurders sal binnekort ingespan word om die bestuur van gesondheidstelsels in die provinsie te hanteer, asook hulp op grondvlak te bied.

Lwazi Manzi, Mkhize se woordvoerder, sê meer besonderhede oor die ontplooiing van dié senior amptenare sal later vandeesweek bekend gemaak word.

Gwarube het intussen opnuut ’n beroep gedoen op die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement om kragtens art. 100 (1) van die Grondwet onder administrasie geplaas te word. Sy het sowat twee weke gelede aan Mkhize geskryf met die versoek.

Gwarube het Maandag in ’n verklaring gesê sy sal nou ook vir David Mabuza, adjunkpresident, vir dringende ingryping in die provinsie nader.

“ ’n Totale bedryfspan word benodig om dringend ondersteuning aan die fasiliteite te bied,” sê Gwarube.

“Nadere bestuur is nodig om die sinnelose dood van mense te voorkom.”

Meer oor:  Laboratoriums  |  Nhls  |  Ondersoek  |  Toetsstelle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.