Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
O-Kaap se entstofprogram op dreef, sê LUR

Die Oos-Kaap se gesondheidsdepartement se Covid-19-entstofprogram is op dreef en in pas met dié van ander provinsies.

Dit is volgens Sindiswa Gomba, die LUR van gesondheid, wat vandeesweek haar werk hervat het nadat sy in die middel van Desember die koronavirus opgedoen het.

Gomba het Donderdag op ’n nuuskonferensie gesê die departement het reeds taakspanne wat met die ontplooiing van die entstofprogram in die provinsie se onderskeie distrikte sal help. ’n Proses is ook onderweg om plekke te identifiseer wat teen April as inentingsentrums gebruik sal word. Die departement sal 571 mense aanstel wat met die toedien van entstowwe in die provinsie sal help.

Sy het die nasionale gesondheidsdepartement se plan om gesondheidswerkers eerste in te ent onderstreep en haar kommer uitgespreek oor die getal gesondheidswerkers, veral in die Oos-Kaap se twee metro’s, wat positief vir die virus toets.

Sindiswa Gomba, LUR vir gesondheid in die Oos-Kaap. Foto: Argief

Luidens die jongste statistieke van 27 Januarie het 9 776 gesondheidswerkers in die provinsie reeds die virus opgedoen, van wie 188 aan Covid-19 dood is.

Die kumulatiewe koronavirusgevalle in die Oos-Kaap het Woensdag op 191 060 gestaan, met 227 nuwe gevalle wat in die afgelope 24 uur aangemeld is.

Volgens Gomba is die meerderheid hiervan in die Nelson Mandelabaai-metro aangemeld.

Sy het gesê die provinsie se herstelkoers is 92,8%, met slegs die Chris Hani- en Joe Gqabi-distrik wat ’n herstelkoers onder 90% het.

Die jongste data dui ook op ’n toename in Covid-19-toetse sedert 6 Januarie, maar ’n afname in die positiewe gevalle. Gomba sê hoewel sy verheug is oor die minder aktiewe gevalle (3 443) moet gesondheidsmaatreëls steeds nagekom word.

Intussen het die DA in die Oos-Kaap die provinsiale regering versoek om die nasionale regering te vra om dringend die vlak 3-inperkingsregulasies te verslap.

Die heropening van strande, die opskorting van die Nelson Mandelabaai-metro se status as ’n Covid-19 brandpunt, die aanmoediging van toerisme en tot ’n mate die opheffing van die verbod op drankverkope – ten minste in restaurante – sal volgens die party tot die heropening van die provinsie se ekonomie bydra.

Volgens Bobby Stevenson, DA-leier in die Oos-Kaapse wetgewer, het die inperkingsregulasies ’n regstreekse ekonomiese invloed op die vermaak-, reis- en toerismebedryf. Hy het gesê luidens ’n onlangse Moneyweb-verslag word aangedui dat die regulasies ’n risiko vir meer as 109 000 werke in die provinsie inhou.

“Dit kan daartoe lei dat die Oos-Kaap se uitgebreide werkloosheidskoers tot byna 60% styg, verby die reeds verwoestende 51,2% waaroor in die derde kwartaal van die Kwartaallikse Arbeidsmagopname berig is.”

Hy het benadruk dat die provinsie se aktiewe gevalle ook drasties van die 10 000 tydens die piek van die tweede vlaag afgeneem het en dat dieselfde in die Nelson Mandelabaai-metro gesien kan word, waar daar Maandag 322 aktiewe gevalle was teenoor die 4 000 aktiewe gevalle toe die metro vroeër tot ’n brandpunt verklaar is.

Hy het gesê die brandpunt-status moet opgehef word, terwyl die aandklokreël ook aangepas moet word sodat ondernemings saans langer kan oopbly.

Mvusiwekhaya Sicwetsha, woordvoerder van die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, het by navraag oor moontlike aanbevelings vir die verslapping van die inperkingsregulasies en die opheffing van die verbod op drankverkope slegs gesê “geen nuwe besluite is tot dusver daaroor geneem nie”.

Meer oor:  Sindiswa Gomba  |  Koronavirus  |  Entstof  |  Pandemie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.