Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
O-Kaap span geriewe in staatsbesit as veldhospitale in

Museums en skoolkoshuise is van die geriewe in die Oos-Kaap wat in veldhospitale vir Covid-19-pasiënte omskep gaan word om die druk op die gesondheidstelsel te verlig.

’n Bykomende 2 080 beddens, waarvan 218 waakeenheid-beddens is, sal ingerig word deur 18 geriewe in staatsbesit, wat museums, skoolkoshuise en opleidingsentrums oor al die distrikte heen insluit, in veldhospitale te omskep. Dit sal ook geriewe bied waar mense onder toesig in isolasie kan wees.

Boonop het die provinsie Maandag die hulp van 75 militêre mediese personeellede verwelkom, waarvan 20 spesialiste is.

Hulle is by die Dora Nginza-, Livingstone-, Frere-, Frontier-, Komani-, Tower- en die Nelson Mandela- akademiese hospitaal ontplooi.

Dié hospitale is in die provinsie se vier brandpunt-distrikte vir koronavirusinfeksies geleë: die Nelson Mandelabaai- en Buffalostad-metro, asook die O.R. Tambo- en Chris Hani-distriksmunisipaliteit.

Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap. Foto: Verskaf

Oscar Mabuyane, premier, het Dinsdag op ’n mediakonferensie in Bhisho dié planne en die provinsie se nuwe gemeenskapsgegronde Covid-19-reaksieplan bekend gemaak.

Volgens hom het die provinsie nou ná drie maande meer inligting oor die virus en is dit tyd om ratte te verwissel deur ’n aangepaste strategie in werking te stel.

Die provinsie het tot dusver 38 081 infeksies aangemeld en 528 mense is aan Covid-19 dood. Die herstelkoers is 56%.

Die nuwe gemeenskapsgegronde plan sal die stryd teen die virus tot op grondvlak neem in die wyke waar die infeksies skerp styg.

Mabuyane sê 87 wyke is as brandpunte in die provinsie se twee metro’s geïdentifiseer wat dringend ingryping benodig.

“Met die (gemeenskapsgegronde plan) sal ons alle rolspelers betrek, insluitende die wyksbevelsraad, om saam die verspreiding van die virus hok te slaan. Die lede sal op voetsoolvlak werk sodat die probleme in die stelsel opgespoor en terugvoering daaroor gegee kan word,” het Mabuyane bygevoeg.

Die plan sluit sewe kernstrategiepunte in, onder meer die samestelling van infeksiekaarte vir hoërisikogebiede, die voorsiening van beddens, monitering en databestuur.

Mabuyane het Dinsdag ook die provinsie se nuwe plan vir die infasering van die volgende grade by skole bevestig.

Die infasering in die Oos-Kaap sal vertraag word, sodat skole voldoende kan voorberei vir die volgende fase.

Ná besprekings met die nasionale regering is die volgende datums vir die infasering vasgestel:

• gr. 3-, gr. 6- en gr. 11-leerlinge: 20 Julie;

• gr. 4-, gr. 9- en gr. 10-leerlinge: 27 Julie;

• gr. 5- en gr. 8-leerlinge: 3 Augustus;

• gr. 1- en gr. 2-leerlinge: 10 Augustus; en

• gr. R-leerlinge: 17 Augustus.

Fundile Gade, LUR vir onderwys in die Oos-Kaap, het op dieselfde mediakonferensie gesê die provinsie se matrieks is tot dusver op koers, wat aandui dat hulle die uitgesette teikens sal haal.

Hy het egter sy kommer uitgespreek oor die infeksies wat sedert die heropening van skole op 8 Junie aangemeld is. Luidens die jongste beskikbare statistieke, sê Gade, is 396 leerlinge, 634 onderwysers en 526 ander skoolpersoneellede positief vir die virus getoets. Uit die 396 leerlinge is 179 van die Makaula Senior Secondary School in KwaBhaca (Mount Frere), wat almal herstel het.

Meer oor:  Oscar Mabuyane  |  Oos-Kaap  |  Museums
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.