Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
OB na Gautengse hospitale in ondersoek na bedrog

Die openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, besoek vandeesweek Gautengse hospitale om die geriewe vir koronavirus-pasiënte te ondersoek.

Adv. Busisiwe Mkhwebane. Foto: Conrad Bornman

Mkhwebane en haar adjunk, adv. Kholeka Gcaleka, se inspeksie volg op bewerings van wydverspreide Covid-19-bedrog, wat onder meer handel oor onreëlmatighede in die verkryging van persoonlike beskermende toerusting (PPE) wat glo in die topstrukture van die provinsie hoogty vier.

Inspeksies in die hospitale in ander provinsies sal as deel van die uitgebreide ondersoek ná die Gautengse inspeksies volg.

Hulle besoek Dinsdagoggend die Jubilee-hospitaal in Hammanskraal en die Dr. George Mukhari Akademiese Hospitaal in Ga-Rankuwa, waarna die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto en die Lillian Ngoyi- gemeenskapsentrum in Diepkloof Woensdag aan die beurt sal kom. Donderdag word die Steve Biko- Akademiese Hospitaal in Pretoria asook die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg besoek.

Gcaleka het reeds vroeër vandeesmaand vier hospitale in die Oos-Kaap besoek.

Netwerk24 het voorheen reeds berig dat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) tans besig is om die bewerings van korrupsie by die aankoop van PPE in die Gautengse departement van gesondheid te ondersoek.

Dr. Bandile Masuku. Foto: by Verskaf

Dr. Bandile Masuku, LUR vir gesondheid, is op verlof hangende die ondersoek. Die ANC se provinsiale integriteitskomitee is ook besig om hom en sy vrou, Loyiso, ’n burgemeesterskomiteelid in die Johannesburgse metro, te ondersoek.

Die provinsie het vroeër gevra dat die SOE alle Covid-19-verkrygings ondersoek en nie net die PPE nie.

Daar sal ook gekyk word na verkrygings wat met infrastruktuur te make het asook die voedselverligtingsprogram, wat kort ná die begin van die inperking in Maart begin het.

Dit hou verband met berigte dat ’n kontrak van R125 miljoen toegestaan is aan Thandisizwe Diko, direkteur van Royal Bacha Projects, om persoonlike beskermende toerusting te verskaf.

Diko is die eggenoot van Khusela Diko, woordvoerder van pres. Cyril Ramaphosa.

Meer as R2,1 miljard is van April tot einde Julie op Covid-19-verwante goedere en dienste bestee, het die Gautengse regering onlangs bekend gemaak. Van die totale bedrag is 91,78% is deur die departement van gesondheid bestee.

Gauteng het in Julie die Wes-Kaap se totale infeksies verbygesteek en die nuwe brandpunt in die land geword. Die provinsie se infeksies het Maandagaand die 200 000-kerf verbygesteek – byna dubbeld soveel as die Wes-Kaap.

Daar is nou 200 237 gevalle in die provinsie met die dodetal wat op 2 929 staan.

David Makhura, Gautengse premier, het verlede week gesê dat Junie en Julie die ergste maande was wat die aantal nuwe infeksies betref.

Hy het egter bygevoeg dat die herstelkoers in die provinsie baie goed lyk. Altesaam 161 078 mense in die provinsie het herstel.

Johannesburg het steeds die meeste gevalle met 80 395, gevolg deur Ekurhuleni met 44 778. Van die brandpunte in Johannesburg is Doornkop, Soweto, Dobsonville, Protea Glen en die middestad.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het verlede Donderdag in ’n verklaring gesê meer as 27 000 gesondheidswerkers is al positief vir die virus getoets.


Meer oor:  Ob  |  Gauteng  |  Hospitale  |  Covid-Korrupsie  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.