Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
OB oorval met Covid-19-klagte

Die openbare beskermer (OB) se kantoor word oorval deur klagte wat met die Covid-19-pandemie te make het.

Adv. Busisiwe Mkhwebane sê in ’n verklaring wat Maandagoggend uitgereik is die meeste klagte die afgelope vier maande gaan oor die gebrek aan dienslewering weens die pandemie.

Adv. Busisiwe Mkhwebane Foto: Argief

Mkhwebane sê ’n ondersoekspan wat uit tien senior ondersoekbeamptes bestaan, stel ondersoek in na alle beweerde Covid-19-onreëlmatighede.

Sowat 450 mense het al gekla oor wat hulle voel die “onredelike redes” is wat gegee word vir waarom hul aansoek om die spesiale maandelikse maatskaplike toelae van R350 wat ingestel is vir mense wat weens die pandemie hul werk verloor het, nie aan hulle toegeken word nie. Mkhwebane wys daarop dat dié geld in April beskikbaar gestel is slegs vir mense wat nie reeds werkloosheidsversekering ontvang nie.

Die OB, wat tans onder groot politieke druk is en om oorlewing veg nadat sy nou al verskeie kere in die hof bloedneus gekry het, sê sy sal met Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, in gesprek tree oor die mense se klagte.

Sy sal ook met Lindiwe Sisulu, minister van water, sanitasie en menslike nedersettings, Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, die ouditeur-generaal en die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) vergader.

Haar kantoor het ook klagte ontvang oor wanadministrasie en onreëlmatighede met onder meer die grensdraad van R37 miljoen by die Beitbrug-grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe naby Musina in Limpopo en die Gautengse regering se tender van R30 miljoen vir inligtingstegnologie.

Die OB sê haar kantoor ondersoek verder beweerde onreëlmatighede met tenders vir die omstrede Zithabeseni-kwarantynkamp naby Groblersdal in Limpopo.

In KwaZulu-Natal word ondersoek ingestel na beweerde onreëlmatighede in die provinsiale onderwysdepartement met die aankoop van persoonlike beskermende toerusting (PBT’s). Daar word beweer die departement het buitensporig hoë pryse hiervoor betaal.

In die Oos-Kaap is die OB se span besig om ondersoek na beweringe in te stel dat ’n lodge wat as kwarantyngerief gebruik word aan ’n lid van die provinsiale uitvoerende komitee behoort.

Daar word ook ondersoek ingestel na beweerde onreëlmatighede met die aankoop van toerusting vir afstandsonderrig. Dié kontrak beloop sowat R400 miljoen.

Die omstrede kwessie oor die aankoop van motorfiets-ambulanse vir dié provinsie word ook bekyk.

Adv. Kholeka Gcaleka, adjunk-OB, en Charles Mohalaba, operasionele hoof van die OB se kantoor, sal vandeesweek die Mthatha-, Livingstone- en Uitenhage-hospitaal besoek om na berigte van verslegtende toestande in dié Oos-Kaapse hospitale ondersoek in te stel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.