Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Oefen met griep kan dodelik wees

Moet nooit oefen met ’n loopneus of ’n hoesie wat nie wil weggaan nadat jy griep gehad het nie – selfs nie eens ’n bietjie nie. Jy kan onherstelbare skade aan jou hart aanrig.

Dr. Willie Koen, ’n hartchirurg wat ook bekend is vir sy baanbrekerswerk met hartoorplantings, het by navraag gesê die hart word net soos ander spiere moeg weens infeksie.

Dit kom nadat André Botha (26), ’n IT-spesialis, ’n hartaanval gekry het ’n week nadat hy ’n virale infeksie gehad het. Hy is die seun van adv. Pieter Botha, ’n regsverteenwoordiger van Henri van Breda.

Die hartaanval is volgens sy pa vermoedelik deels weens die infeksie en hy is aangeraai om vir twee maande nie te oefen nie, berig Jana Breytenbach.

Dr. Otto Thaning (links) en dr. Willie Koen, albei hartchirurge, besig met ’n hartoorplanting in die Netcare-Christiaan Barnard-gedenkhospitaal. Foto: Elsabé Brits

Koen sê daar is twee hoofoorsake van hartaanvalle. Die eerste is geblokte koronêre bloedvate en die oorsaak daarvan is rook, hoë bloeddruk wat nie beheer word nie, oorerflike cholesterol, diabetes en ’n familiegeskiedenis. ’n Stent of hartomleiding is meestal die oplossing hiervoor.

Die tweede is kardiomiopatie, waar die hart só verswak dat dit uiteindelik tot hartversaking lei. ’n Hartoorplanting, of deesdae ’n meganiese hart, is die enigste uitweg.

Koen sê as jy verkoue of griep het, word al jou spiere aangetas, die hart ook. Wanneer die hart ooreis word, kan dit skade opdoen. Hoewel ’n mens kan herstel, is daar mense wie se hart nie herstel nie.

Daar is mense wat met medisyne tien tot 15 jaar kan leef, totdat hulle uiteindelik te siek raak.

Die helfte van hartoorplantings is weens kardiomiopatie en die ander helfte weens koronêre siektes.

Koen sê kardiomiopatie word veroorsaak wanneer ’n mens oefen terwyl jy siek is, terwyl enkele mense se hart deur alkohol beskadig word. Hulle is nie verslaaf nie, hul hart kan dit net nie hanteer nie. Sommige vroue kry ’n verswakte hart ná ’n bevalling, as hulle hoë bloeddruk het, en soms ná chemoterapie. Daar is niks met die mense se are verkeerd nie, die hartspiere is aangetas.

Maar indien jou neus loop, of jy het daardie knaende hoesie al voel jy gesond, moenie oefen nie
Dr. Willie Koen, hartchirurg

Indien ’n mens koors het, wat ’n aanduiding van griep is, is die aanbeveling dat jy drie dae moet wag totdat jy heeltemal gesond is voordat jy oefen. Koen sê om veiligheidshalwe sal hy ’n week aanbeveel.

“Maar indien jou neus loop, of jy het daardie knaende hoesie al voel jy gesond, moenie oefen nie. Indien jy lank en hard kon oefen en jy raak binne minute moeg, hou dadelik op en gaan lê.”

Hy sê baie aktiewe mense wat aan sport wil deelneem, druk hulself soms om vroeër te begin oefen, of iemand is bang hy verloor sy plek in ’n span. “Dit is waar die probleme inkom.”

Meer oor:  Gesondheid  |  Griep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.