Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Omgee-netwerke ‘versprei vinniger as korona-pandemie’

’n Omgee-netwerk wat aan die begin van die Covid-19-uitbreking in Kaapstad gestig is, “versprei” nou vinniger as die pandemie, aldus ’n stigterslid.

Zainab Salie en dr. Leanne Brady: “Ons het geen geld hierin belê nie, net idees.” Foto: Edrea du Toit

“Covid-19 het, soos x-strale, vir ons die ongelykhede en onregverdigheid in strukture in die gemeenskappe kom wys,” sê dr. Leanne Brady van die Cape Town Together-gemeenskapsaksienetwerk (CAN).

“Die CAN’s wys weer vir ons hoe ’n omgee-samelewing kán lyk.”

Brady was deel van ’n groep van 15 Kapenaars wat die Cape Town Together-CAN gestig het.

“Ons het geen geld hierin belê nie, net idees, wat ons as ’n ‘beginnerspak’, ’n soort copy and paste-pakket, op sosiale media geplaas het.”

‘Covid-19 praat hard en leer ons.’

Sowat 15 500 mense het daarop gereageer. “Mense bel en sê: ‘Maar ek wil ook ’n CAN begin.’

“Daar is 158 gemeenskapsaksienetwerke net in die Kaapse metropool.

“Elkeen is ’n ‘selforganiserende’ netwerk waarin inwoners die unieke behoeftes weens die pandemie, behoeftes soos algemene veiligheid, publieke gesondheid en sopkombuise, takel.”

Daar is ook sulke netwerke elders in die Wes-Kaap, asook in Gauteng en die Oos-Kaap.

“Elke CAN is anders en dit strek oor ras, klas en baie ander grense heen,” sê Brady. “Dis ’n model van gemeenskapsaksie wat baie vinniger as Covid-19 versprei.

Dr. Leanne Brady by die houtkratte wat Iekeraam Salie uit ou skoolbanke en ander planke gemaak het en waarin groente geplant gaan word. Foto: Edrea du Toit

“Geen staatsrespons kan doen wat die netwerke doen nie. Die hulp is onmiddellik en gefokus op die teikens. Covid-19 praat hard en het ons baie lesse geleer.

“Ons moet net fyn luister.”

Sy sê die CAN’s het ’n “ongelooflike”, nuwe energie vrygestel.

“Die gemeenskappe het soos een man ingespring en hul probleme kreatief getakel.

“ ’n Ouer inwoner sê onlangs dit voel vir haar weer soos in die struggle-tyd – dat gemeenskappe kragte saamsnoer.”

Brady het vir Rapport gaan wys waar inwoners in Soutrivier tuine op hul erf begin het. Iekeraam Salie het uit ou skoolbanke en los planke kratte aanmekaar getimmer waarin grond en kompos gaan kom vir groente plant.

Eleanor Beth Whyle het die “beginnerspak” vir nuwe netwerke saamgestel. Sy is ’n navorser in gesondheidsbeleid en -stelsels en besig met ’n doktorsgraad. Sy help nuwe netwerke om sonder haakplekke op dreef te kom. Volgens haar is sopkombuise veiliger en meer higiënies gemaak deur veiligheidsmaatreëls met die ander netwerke te deel.

“Daarsonder kan dié kombuis nogal erg chaoties raak.”

Whyle sê die CAN’s leer uit hul eie ervaring en deel dit dan met ander op sosiale media. ¦ Meer inligting is beskikbaar op Cape Town Together se Facebook-groep.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.