Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Onder 18? Geen sonbed vir jou nie
’n Verbod op sonbeddens vir minderjariges is in die Amerikaanse voedsel-en-medisyneadministrasie se visier. Foto: Pixabay

Die dae van ’n bietjie op ’n sonbed lê om mooi te lyk in jou matriekafskeidrok in die VSA is dalk getel.

As die Amerikaanse voedsel-en-medisyneadministrasie (FDA) sy sin kry, gaan niemand onder 18 meer toegelaat word om sonbeddens te gebruik nie.

Die FDA het dié voorstel vroeër vandeesweek gemaak.

Dit behels ook dat sonbed-vervaardigers duideliker waarskuwings oor hul produkte moet aanbring.

Boonop sal gebruikers ’n vrywaringsvorm voor hul eerste sonbedsessie moet teken om aan te dui dat hulle die gesondheidsgevare verstaan.

Daarna moet ’n nuwe vorm elke ses maande geteken word.

In die VSA is daar jaarliks gemiddeld sowat 3 000 beserings wat met sonbeddens verband hou as gevolg waarvan mense in ongevalle-eenhede beland.

In 2013 het die FDA aanbeveel dat sonbeddens nie deur mense jonger as 18 jaar gebruik word nie, maar het nie ’n algehele verbod aanbeveel nie.

Die mees onlangse voorstel bring die FDA in lyn met die Internasionale Agentskap vir Navorsing oor Kanker se voorstelle.

Volgens dié agentskap gebruik sowat 1,6 miljoen minderjariges jaarliks sonbeddens.

Luidens hul statistieke het 35% Amerikaanse volwassenes, 59% universiteitstudente en 17% tieners gesê hulle het al ’n sonbed gebruik.

Die bestraling van sonbeddens verhoog ook die risiko om melanoom te ontwikkel – teenoor diegene wat nog nooit ’n sonbed gebruik het nie, is gereelde gebruikers se kans 59% groter.

’n Toename in melanoom, die gevaarlikste vorm van velkanker, onder jong vroue tussen 15 en 29 jaar oud vergeleke met mans van dieselfde ouderdomsgroep is ook waargeneem.

Indien die FDA se voorstel suksesvol deurgevoer word, kan oortreders boetes opgelê word.

Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.