Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Ondersoek begin nadat ma glo weggewys word, baba sterf

Die baba van ’n vrou van Elsiesrivier in Kaapstad is sowat twee ure ná haar geboorte dood nadat die 37-jarige vrou glo deur ’n hospitaalwerker weggewys is.

Nerina Swartz, ’n ma van vyf, was op 10 Maart by die Elsiesrivier-daghospitaal nadat haar water skielik gebreek en sy by die huis die lewe geskenk het.

Sy is egter met haar baba nog aan die naelstring glo by die kliniek weggewys en aangesê om na die Tygerberg-hospitaal te gaan.

Donovan Swartz (39) en sy vrou, Nerina (37), op hul babadogtertjie se begrafnis.

Swartz sê sy was op die betrokke dag by die huis en het geen pyne ervaar nie.

“My water het egter skielik gebreek en toe ek weer sien, is die baba uit. Ek was verward en het gewonder: Hoe nou gemaak?”

’n Familievriendin, Kelly Gribi, het Swartz hospitaal toe gevat omdat daar glo nie ambulanse beskikbaar was nie.

“Toe ons by die hospitaal aankom, was die verpleegster ’n bietjie ongeskik en het gesê dat hulle nie vroeggebore babas hanteer nie. Sy het gesê ek moet Tygerberg toe gaan en toe neem Kelly my daarheen,” vertel Swartz.

“Hulle het daar die naelstring geknip en my en die baba ondersoek. Ongeveer twee uur later het die dokter teruggekom en gesê my kind is dood,” sê Swartz.

Sy sê sy was platgeslaan.

“Ek kon nie verstaan wat gebeur het nie. Ek het die baba dan nog lewend gesien. Ek het haar gevoed ook. Haar handjie het beweeg toe hulle die naelstring knip.”

Sy sukkel steeds om te eet en te slaap en volgens haar is daar nie vir haar enige berading aangebied nie.

Swartz se man, Donovan (39), was by die werk toe die voorval gebeur het.

“Die eerste keer toe ek my baba ontmoet, was dit om haar lyk uit te ken. Ek was kwaad en is nou nog kwaad en teleurgesteld oor wat gebeur het.

“Ek wil hê geregtigheid moet geskied. Hoe kon hulle my vrou wegwys? Dit is dan hul beroep om mense te help,” sê Donovan.

Gribi sê sy het haarself aanvanklik vir die baba se dood blameer.

“Ek het gedink ek het dalk te stadig gery. Dit is onaanvaarbaar wat gebeur het en Nerina-hulle sit nou met die pyn.”

Natalie Watlington, woordvoerder van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, sê daar is in samewerking met die Menseregtekommissie (MRK) met ’n ondersoek na die voorval begin.

“Die ondersoek is in ’n gevorderde stadium en behoort binnekort afgehandel te word. Ons kan dus in hierdie stadium geen kommentaar lewer nie,” sê Watlington.

Sy sê die saak word in ’n baie ernstige lig beskou omdat die verskaffing van gehaltegesondheidsorg vir die departement ’n voorkeursaak is.

Volgens haar het dr. Keith Cloete, hoof van die departement, spesialiste gevra om die saak te ondersoek en die span sal ook met Swartz vergader. Cloete het ook reeds met ’n MRK-kommissaris, ’n monitor en die geriewebestuurspan vergader.

Gushwell Brooks, woordvoerder van die MRK, het bevestig hulle het ’n klag ontvang en dat hulle dit in samewerking met die provinsiale gesondheidsdepartement ondersoek.

Meer oor:  Elsiesrivier  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.