Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Inenting: Mense 'doen hulle as mediese werkers voor'

Die Wes-Kaapse regering ondersoek beweringe dat mense hulle in Kaapstad as gesondheidswerkers voorgedoen het om teen Covid-19 ingeënt te word.

Alan Winde, premier, het Dinsdag gesê die beweringe word in ’n baie ernstige lig beskou en indien dit waar is, sal dit op ’n “ernstige skending van protokol en etiek” neerkom.

Daar word beweer dat sommige dokters verlede week hul familielede saamgeneem het om  in die Groote Schuur-hospitaal ’n inenting te ontvang en dat van dié familielede dokumentasie gehad het wat aangedui het dat hulle mediese werkers is.

Winde het by navraag gesê die Johnson & Johnson (J&J)-entstofstudie behels dat die provinsie geriewe vir inentings verskaf terwyl die registrasie van private gesondheidswerkers ook nagegaan word. Die beweringe is ook onder die aandag gebring van die navorsers wat by die studie betrokke is.

Mark van der Heever, woordvoerder van die provinsiale gesondheidsdepartement, sê daar is onmiddellik opgetree toe die departement verlede week bewus geword het van “skuiwergate in die nasionale elektroniese stelsel (vir inentings)” wat uitgebuit kan word. As ekstra veiligheidsmaatreël word daar nou vereis dat mense hul personeel- of registrasienommer by die Raad op Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika, sowel as ’n identiteitsdokument, verskaf.

Foto ter illustrasie. ’n Mediese werker vul ’n spuitnaald met ’n entstof teen Covid-19. Foto: Getty Images

Inentings met die J&J-entstof is aanvanklik in die Groote Schuur-hospitaal, Tygerberg-hospitaal, Khayelitsha-distrikshospitaal en die Karl Bremer-hospitaal toegedien. Dit is deel van fase 1 van die inentingsprogram, waarin meer as 100 000 gesondheidswerkers, mediese studente en versorgers in die provinsie ingeënt sal word.

Die provinsiale gesondheidsdepartement het voorheen aangedui dat diegene uit hierdie groep wat met pasiënte werk of onderliggende toestande het eerste ingeënt sal word terwyl daar nog nie genoeg entstof vir almal in die gesondheidsektor is nie.

Winde het verlede week op sy weeklikse mediavergadering al sy kommer uitgespreek oor gerugte dat mense in ander provinsies hulle as gesondheidswerkers voordoen en registreer om die entstof teen die virussiekte te kry.

Hy het toe gesê bykomende maatreëls is ingestel om die identiteit na te gaan van die mense wat die entstof ontvang en daar word van hulle vereis om te bewys dat hulle gesondheidswerkers is.

Die departement het Dinsdag ook bevestig dat hy die eerste besending van net meer as 13 000 dosisse van die J&J-entstof klaar toegedien het en vandeesweek inentings in die metro en na landelike gebiede uitbrei. Dit sluit in die Mitchells Plain-distrikshospitaal, asook die Paarl-, George- en Worcester-hospitaal, wat van die tweede besending entstowwe sal ontvang. Die Melomed Gatesville-hospitaal in Kaapstad is Dinsdag ook vir die inenting van gesondheidswerkers in die private sektor oopgestel.

Van die 13 068 dosisse wat die Wes-Kaap in die tweede besending ontvang het, sal 2 560 na landelike gebiede gaan.

Na verwagting sal 40% van die provinsie se gesondheidswerkers binne die agt weke van die Sisonke-entstofprogram ingeënt word, luidens ’n verklaring van die departement.

In fase 2 en 3 van die inentingsprogram sal mense in groter getalle die entstof ontvang en word massa-inentings beplan. Die publiek sal mettertyd in kennis gestel word wanneer hulle vir dié inentings kan registreer.

Meer oor:  Medici  |  Inentings  |  Gesondheidswerkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.