Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Onnies, laat julle inent, pleit Ladysmith Black Mambazo

“Laat jou inent. Ons kinders se veiligheid is in jul hande.”

Dit is die sanggroep Ladysmith Black Mambazo se pleidooi aan onderwysers en alle Suid-Afrikaners.

Die departement van basiese onderwys het die naweek aangekondig dat sowat 582 000 onderwysers en skoolpersoneel vanaf Woensdag oor die land heen ingeënt sal word om verdere ontwrigting in skole te voorkom.

Thulani Shabalala, Puis Shezi, Msizi Shabalala, Sibongiseni Shabalala, Thami Shabalala, Sabelo Mthembu, Mfana Dladla en Abednego Mazibuko van Ladysmith Black Mambazo het tydens hul besoek aan Kimberley ’n beroep op onderwysers gedoen om hulle te laat inent. Foto: Anena Burger

Die groep, wat in 1960 deur prof. Joseph Shabalala gestig is, is tans op besoek aan Kimberley waar hulle saam met jong kunstenaars ’n musiekvideo maak en ’n lied opneem.

Dit is deel van die Ladysmith Black Mambazo Mobile Academy-projek wat ’n droom van Shabalala was – om aan jong kunstenaars die geleentheid te gee om hul musiektalent te ontwikkel en sukses te bereik.

Die akademie is in 2018 gestig en sedertdien besoek die groep tussendeur hul oorsese toerprogram jaarliks elke provinsie om meesterklasse en werksessies in inheemse musiek aan te bied.

Ná Shabalala se dood op 11 Februarie verlede jaar, leef sy droom voort, sê Sibongiseni Shabalala, seun van die stigter.

“Dit is belangrik dat ons hierdie kennis van inheemse musiek aan hulle oordra sodat hulle nie vergeet waar hulle vandaan kom nie en kan weet wie hulle is.”

Die groep wil ook graag midde-in die pandemie hoop aan jong mense gee en wil nie hê hulle moet tou opgooi nie.

Die pandemie het Ladysmith Black Mambazo hard getref. Nes duisende ander kunstenaars wêreldwyd is die meeste van hul konserte weens die pandemie en die inperking gekanselleer. Ook nou weer hul jongste toer na Kanada.

“Dit is sleg, maar ons kan darem nou ons aandag aan die jong musiekstudente gee en dit hou ons besig.”

Ons het julle nodig vir hul opvoeding en julle werk in die voorste linie van hierdie pandemie.

Abednego Mazibuko, die enigste lid van die groep wat ouer as 60 is, sê hy het reeds sy eerste dosis van die Pfizer-entstof ontvang en sal binnekort die tweede kry. Hy wil graag mense, en veral onderwysers, aanmoedig om nie bang te wees nie en eerder die entstof te neem.

“Doen dit vir julself en vir ons kinders wat elke dag in jul hande is. Ons het julle nodig vir hul opvoeding en julle werk in die voorste linie van hierdie pandemie.”

Die groep het Dinsdag saam met die jong kunstenaars, die Meduduetsane Basadi-sanggroep, ’n musiekvideo opgeneem en sal Woensdagoggend saam met die Barkley Accapella-groep ’n ateljeeopname doen.

Ladysmith Black Mambazo toer tans deur die land om die beste groep te kies wat onder hul leiding tot stand gekom het. Die groep wat wen, sal saam met hulle by verskeie geleenthede optree, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook oorsee.

Meer oor:  Kimberley  |  Inentings  |  Covid-19  |  Ladysmith Black Mambazo  |  Onderwysers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.