Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Ons gaan nou pasiënte soek,’ sê Mkhize

Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sê die reaktiewe benadering wat Suid-Afrika tot dusver gevolg het, gee nie die volledige prentjie oor die verspreiding van die Covid-19-uitbreking in Suid-Afrika nie. Daarom gaan die departement nou pasiënte soek, eerder as om te wag dat hulle self vir mediese hulp aanklop.

Mkhize het Woensdag gesê Suid-Afrika het nou 1 380 bevestigde Covid-19-gevalle, ’n styging van 27 gevalle sedert Dinsdag. Hy kon nie die jongste sterftesyfer bevestig nie.

Rondgaande toetseenhede is Woensdag by die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) in Johannesburg bekend gestel wat in verskeie brandpunte in die land ontplooi gaan word om mense vir Covid-19 te toets.

Meer as 44 000 mense is reeds vir die virus getoets, maar Mkhize sê dié getal is te laag gegewe die grootte van Suid-Afrika se bevolking. Altesaam 67 toetseenhede is bekom om Suid-Afrika se toetskapasiteit tot 30 000 toetse per dag te vermeerder. Daar is tans tien laboratoriums landswyd wat 5 000 toetse per dag kan doen.

Daar was verlede week 6 500 toetse agterstallig, maar die sektore het saamgewerk om die agterstand uit te wis.

Volgens Mkhize is daar geen agterstallige toetse by private of openbare laboratoriums nie.

“Daar was verlede week 6 500 toetse agterstallig, maar die sektore het saamgewerk om die agterstand uit te wis.”

Mkhize sê die stadige styging in positiewe gevalle kan aan verskeie faktore toegeskryf word, waaronder die sluit van die land se grense en die feit dat reisigers in kwarantyn moet bly. Die staat van inperking het ook gehelp om plaaslike oordrag van die virus te verminder.

“Ons moet egter waaksaam wees omdat plaaslike oordrag wel plaasvind en die neiging het om stil te versprei. Mense wat matige simptome in arm gebiede het, sal dalk nie dadelik hulp soek nie,” sê hy.

“Die tweede kwessie is dat die kriteria om pasiënte te mag toets beperk is. Dit beteken ons het nog nie die volledige prentjie van die omvang van die probleem nie en dis hoekom ons meer moet toets.”

Volgens Mkhize is dit te vroeg om ’n daling in die getal positiewe gevalle te verwag. Hy het bygevoeg dat die griepseisoen wat voorlê probleme kan meebring en het gewaarsku dat Suid-Afrika moontlik die stilte voor die storm beleef.

“Ons hospitale en klinieke kan oorstroom word en vrugbare grond vir die koronavirus wees om te versprei óf die simptome kan as gewone griepsimptome vermom wees.”

Ons hospitale en klinieke kan oorstroom word en vrugbare grond vir die koronavirus wees om te versprei óf die simptome kan as gewone griepsimptome vermom wees.

Hy sê daar gaan dalk nie verdere waarskuwings wees voordat die toedrag van sake skielik vererger nie.

Die onderskeie provinsies sou Woensdagaand vergader om te kyk hoe verskillende gebiede in die land hul reaksie kan verbeter.

Mkhize sê hulle leer by ander lande en gaan ook by onder meer China en Kuba om hulp aanklop.

“Enigiemand met ’n persepsie dat dit ’n siekte vir ryk of arm mense of swart of wit mense is, maak ’n fout. Die virus kan enige plek wees en enigiemand siek maak. China en Suid-Korea is egter voorbeelde van hoe die getalle afgebring kan word.”

Hy sê om die staat van inperking op te skort, sou ’n wegholtreinreaksie tot gevolg hê en dit onmoontlik maak om die verspreiding te keer.

“Die gedrag van die virus maak nie saak nie, die gedrag van mense maak saak. Verlaat net jou huis as jy noodsaaklikhede moet kry. Dis belangrik dat mense steeds kos kry, maar ons moet die 21 dae van inperking gebruik om die impak van die virus te verminder.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.