Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Onsekerheid oor siek onnie in S-Korea ‘vreet aan familie’
Hein Cloete word in Suid-Korea vir die virussiekte Covid-19 behandel. Foto: Facebook

Onsekerheid oor Hein Cloete (39), ’n Suid-Afrikaanse onderwyser in Suid-Korea by wie die koronavirus geïdentifiseer is, vreet aan sy familie.

Sy suster, Celesti Mathews van Tshwane, sê haar broer het Engels gegee in Daegu, die episentrum van die uitbreking van die koronavirus in Korea. Sy werkkontrak, en ook sy huurkontrak vir verblyf, het verstryk en hy wou huis toe kom.

Verlede Maandag by die lughawe in Incheon het hy egter ’n hoë koors gehad en is hy na ’n hospitaal geneem.

“Hulle noem dit ’n ‘basement’-hospitaal,” vertel sy. “Ons lei af dis ’n opslaan-hospitaal by die lughawe, maar het geen verdere besonderhede nie. Nog toetse is gedoen en daar is bevind hy het die virus onder lede.

“Hy het ons verlede Maandag vir die eerste keer gekontak en toe weer twee keer daarna. Teen daardie tyd het hy reeds vier dae lank behandeling ontvang. Blykbaar is telefone nie geredelik beskikbaar vir pasiënte nie omdat plaaslike families na die hospitaal stroom. Hulle het ’n uitsondering gemaak sodat my broer ons kon kontak.”

Sy het die Koreaanse owerhede bedank wat na Cloete omsien.

Sy sê volgens Cloete kry hy goeie kos en sorg.

“Hy het verduidelik die situasie in Korea is moeilik en verg emosioneel baie van almal. Hy is nie bewus van enige ander Suid-Afrikaner wat daar behandel word nie, maar het vertel hy het ’n Britse pasiënt gesien. Die laaste keer dat ons gepraat het, het ek verstaan sy toestand is onder beheer. Hy het gevra ons moenie oor hom bekommerd wees nie. Ons beskou my broer nie as ’n hoërisikogeval nie en hoop hy herstel gou.”

koronavirus
Suid-Afrika het drie gevalle van mense wat positief vir die nuwe koronavirus getoets het. Foto: Getty Images

Sy sê omdat Cloete die derde Suid-Afrikaner (in die buiteland) is wat positief vir die koronavirus getoets het, wou hulle die inligting met die owerhede deel.

“Ons was in kontak met die Suid-Afrikaanse ambassade in Korea, die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), asook die departement van gesondheid. Die departement van gesondheid se woordvoerder was baie behulpsaam en ons stel dit op prys.

“Daar is ook protokol wanneer my broer moet terugkom Suid-Afrika toe, maar my logika sê vir my wanneer hy ontslaan word en negatief toets, sal hy normaalweg kan voortgaan met sy reëlings. Ons glo riglyne daaroor sal nog bekend gemaak word.”

Sy sê hulle het nou ’n paar dae lank nie van Cloete gehoor nie.

“Die onsekerheid vreet aan my en my ouers. Ons weet die plaaslike ambassade probeer kontak met hom maak. Dit beteken baie vir ons as familie en ek glo vir hom ook.

“Ek sal mense met familie oorsee aanraai om ander kontaknommers te bekom van vriende en kennisse daar indien hulle in ’n noodgeval hul familielede in die hande moet kry.”

Siektetal in Suid-Afrika

Teen Sondag was daar reeds drie bevestigde gevalle van die koronavirus in Suid-Afrika en nog drie van Suid-Afrikaners in die buiteland, volgens Lwazi Manzi, ’n woordvoerder van die departement van gesondheid.

Meer oor:  Suid-Korea  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.