Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Onteien siekefondse se bates’

Siekefondse se reserwes moet onteien word as aanvangskapitaal vir die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), sê dr. Tebogo Letlape, president van die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB).

Dr. Tebogo Letlape: “Dit is ’n kans om ontslae te raak van die kaping (van die gesondheidstelsel).

“Daar moet geen verskoning hiervoor wees nie,” het hy Donderdag in ’n boodskap van steun gesê nadat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, die regering se planne vir die NGV uitgestippel het.

Die RGB is die reguleerder van die oorgrote meerderheid van dokters en ander gesondheidswerkers.

Letlape het gesê die aanvangskapitaal vir die NGV moet eenvoudig bekom word deur ’n wet wat dié miljarde in die NGV stort. “Dit is ’n kans om ontslae te raak van die kaping (van die gesondheidstelsel).”

“Dis ’n dringende taak. Daar kan geen NGV wees sonder maatskaplike solidariteit nie. Daar kan geen NGV wees met twee statutêre fondse (NGV-fonds en mediese fondse) vir gesondheidsorg nie.”

Luidens die Raad op Mediese Skemas se jongste jaarverslag het siekefondse teen 31 Desember 2017 meer as R63 miljard in reserwes gehad. Hulle het in dié jaar ook premies van byna R180 miljard ingesamel van hul lede.

Die NGV-fonds sal twee keer so groot wees as Eskom.

Die Wet op Mediese Skemas bepaal egter uitdruklik dat ’n siekefonds se geld – reserwes ingesluit – behoort aan die lede van die betrokke fonds.

Siekefondse se reserwes sal nie eens vier maande van die regering se NGV-droom kan finansier nie. Die laaste skatting, gegrond op optimistiese ekonomiese groeivooruitsigte, is dat die NGV teen 2026 sowat R256 miljard per jaar sal kos.

Dr. Anban Pillay, adjunk-direkteur-generaal van die NGV, het beweer die geld vir die NGV is eintlik reeds daar. Hy voer aan dat Suid-Afrika jaarliks sowat R460 miljard aan gesondheidsorg bestee deur die regering se begroting en alle siekefondspremies wat aan die private sektor bestee word.

Maar Suid-Afrikaners wat aan ’n siekefonds behoort, betaal gemiddeld R1 695 per persoon om aan ’n mediese fonds te behoort, volgens die 2017-syfers. ’n Gesin van vier het toe reeds gemiddeld sowat R6 700 per maand betaal.

Vir ’n omvattende plan soos Discovery se Classic Comprehensive betaal ’n gesin van vier tans R12 585 per maand.

Om Pillay se som te laat klop, sal al dié reusebydraes deur ekstra belastings ingevorder moet word om die geld in die stelsel te hou.

Die NGV-wetsontwerp bepaal dat die fonds die enigste aankoper van mediese dienste en produkte moet word en dat die fonds moet voldoen aan wetgewing oor voorkeuraankope en swart ekonomiese bemagtiging.

Dit beteken álle aankope van die NGV moet per tender en ’n telkaartproses gedoen word sodat swart entrepreneurs, mense met gestremdhede, vroue en die jeug voorkeur kry.

Selfs die mediese fonds vir staatsamptenare (Gems) hoef nie op die oomblik kontrakte toe te staan in ’n voorkeurproses wanneer medisyne, toerusting en dienste aangekoop word nie.

Pillay en Mkhize het albei toegegee die moontlikheid van korrupsie is ’n bedreiging vir die fonds, maar hulle meen die Wet op Openbare Finansiële Bestuur het die nodige wigte en teenwigte om dit teen te werk.

Dr. Johann Serfontein van die konsultantegroep HealthMan sê dis belaglik. Die NGV-fonds sal twee keer so groot wees as Eskom.

“Eskom word nou in drie dele verdeel omdat dit te groot is om te bestuur. En tog reken die regering NGV sal sonder korrupsie en hoogs doeltreffend bestuur word?”

‘Groot subsidie het fondse gedra.’

Hy sê die dienste wat die NGV-fonds sal bied, is nog nie bekend nie, maar dit sal waarskynlik kleiner wees as wat siekefondse tans deur wetgewing verplig word om te dek.

“Ons kan nie in die inleiding (van die wetsontwerp) sê dit is bekostigbaar as ons nie weet wat dit kos nie.”

Hy sê siekefondse sal waarskynlik nog lank voortgaan soos wat hulle nou voortgaan.

Die wetsontwerp sê uitdruklik mense het die reg om siekefondse en ander mediese versekering soos gapingsdekking te hê.

Die enigste beperking op siekefondse in die wetsontwerp is dat hulle êrens in die toekoms – op ’n datum waarop die minister later sal besluit – en wanneer die regering tevrede is dat die NGV genoegsaam geïmplementeer is, siekefondse kan beveel om net dienste te dek wat nié deur die NGV gedek gaan word nie.

Dis nie ’n doodskoot vir siekefondse nie, meen Serfontein.

“As ’n dokter nie deur die staat gekontrakteer is om dienste vir die NGV te lewer nie, sal die dokter se diens nie deur die NGV-fonds betaal word nie. Mediese fondse sal dus daarvoor kan betaal.”

Hy sê die bedreiging vir siekefondse is eerder in die bekostigbaarheid daarvan wanneer mense gedwing word om ook by te dra tot die NGV.

Dr. Jonathan Broomberg van die siekefondsadministrateur Discovery Health sê dis nie baie duidelik wat die toekomstige rol van mediese fondse sal wees nie.

“Ons glo dat wanneer Suid-Afrikaners tot die NGV bygedra het, hulle die vrye keuse moet hê om dekking deur mediese fondse te kan koop vir gesondheidsdienste, insluitend dié wat deur die NGV verskaf word.”

Die Instituut vir Rasseverhoudinge het in reaksie op die wetsontwerp gesê laekoste-opsies van siekefondse en gesondheidsversekeringspolisse behoort aangemoedig te word, eerder as om dit te beperk.

Die regering kan ook gesondheidskoepons aan lae-inkomstehuishoudings gee sodat hulle aan die laekoste-opsies kan behoort.Lees verder op bl. 2

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.