Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Oos-Kaap se ‘motorfiets-ambulanse’ lewer jou net af

Die Oos-Kaap se omstrede “motorfiets-ambulanse” is nou afgegradeer na afleweringsvoertuie nadat die minister van gesondheid dié aangepaste motorfietse as onvoldoende vir pasiëntvervoer bestempel het.

Die ‘ambulans-motorfietse’ wat vir sowat R10 miljoen deur die Oos-Kaap se gesondheidsdepartement aangekoop is. Foto: Verskaf

Dié projek het die Oos-Kaap se departement van gesondheid sowat R10 miljoen uit die sak gejaag. Die 100 motorfietse, elkeen met ’n waterdigte syspan waarin ’n pasiënt kan sit of lê en selfs binneaarse voeding kan kry, sou gebruik word om pasiënte te vervoer in gebiede wat vir ambulanse onbereikbaar is.

Die motorfietse voldoen nie aan die minimum-regulasies vir mediese nooddienste nie en sal dus nie as ambulanse vir pasiëntvervoer gebruik word nie, het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Donderdag in ’n antwoord op ’n geskrewe parlementêre vraag van die DA gereageer.

Die motorfietse sal volgens die minister hoofsaaklik gebruik word om chroniese medisyne aan mense in die mees afgeleë gebiede in die Oos-Kaap af te lewer.

Mkhize was teenwoordig toe die motorfiets-projek in Junie in Oos-Londen bekend gestel is.

Luidens Mkhize se antwoord het die Oos-Kaap se gesondheidsdepartement nie die nasionale gesondheidsdepartement geraadpleeg oor spesifikasies voordat die motorfietse aangekoop is nie. Die provinsie is glo reeds ingelig dat nie een van die motorfietse vir pasiëntvervoer gebruik mag word nie.

Die motorfiets-projek is uit die staanspoor deur die DA, VF Plus en EFF in die Oos-Kaap verwerp, wat die leierskap van die provinsie se gesondheidsdepartement bevraagteken het.

’n Skermgreep van dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, se twiet op die dag dat die motorfietsprojek deur die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement bekend gestel is. Foto: Twitter

Siviwe Gwarube, DA-LP en die party se woordvoerder oor gesondheid, het in ’n verklaring die provinsie se besluit bevraagteken om R10 miljoen te bestee aan die afleweringsmotorfietse, asook die toevoeging van noodhulptoerustings aan die syspan.

“R10 miljoen word gemors op (motorfietse) wat in ’n pakhuis sal staan en stof opgaar. Dit terwyl die provinsie misluk in ’n daadwerklike reaksie op die Covid-19-krisis.

“Daar is ’n kritieke tekort aan personeel en onvoldoende beddens en ambulanse in sommige gebiede, wat onderstreep word deur die toenemende getal infeksies en sterftes,” lui Gwarube se verklaring.

Sy sê verder die bodbeoordelingskomitee in die Oos-Kaap het vandeesweek bevestig dat die toeken van die tender ondersoek sal word.

Boonop het die DA ’n versoek vir ’n ondersoek rakende die regte van pasiënte, wat aan onmenslike vervoer in die motorfietse blootgestel word, by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ingedien.

Gwarube het bygevoeg die party se beroep om die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement kragtens art. 100(1) van die Grondwet onder administrasie te plaas, het dringend geword.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.