Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Oos-Kaap sit R45 m. opsy vir instel van NGV
Mlungisi Mvoko, LUR vir finansies in die Oos-Kaap. Foto: Facebook

Die Oos-Kaapse regering het net meer as R45 miljoen opsygesit vir die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in dié provinsie.

Die aankondiging kom terwyl openbare verhore oor die Wetsontwerp op die NGV eers einde 2019 begin het.

Mlungisi Mvoko, LUR vir finansies, het Donderdagmiddag die bedrag in sy begrotingsrede bekend gemaak terwyl hy sy planne vir die begroting van byna R86 miljard vir die 2020-’21-boekjaar uitgepak het.

Die grootste deel van die begroting is soos met die vorige boekjaar toegeken aan onderwys (R37,7 miljard) en gesondheid (R26,3 miljard).

Uit die onderwysdepartement se begroting is R564 miljoen vir die verkryging van handboeke en skryfbehoeftes geoormerk. R1,5 miljard is vir konstruksie, opgradering en rehabilitasie van skole se infrastruktuur, en R70 miljoen vir soortgelyke doeleindes aan skole vir leerlinge met spesiale behoeftes.

Die gesondheidsdepartement het R15 miljoen geoormerk vir ’n regskantoor om die talle eise vir mediese nalatigheid teen die departement te hanteer.

Onderbenutte potensiaal

Mvoko het ook gesê hy glo die landbousektor het die meeste onderbenutte potensiaal in die provinsie, maar die sektor sukkel om sy volle potensiaal te bereik, en het die voortslepende droogte as rede hiervoor voorgehou. In 2019 het die sektor gevolglik nagenoeg 1 000 werksverliese gehad.

Hy sê die plaaslike bedrywe, wat die vervaardiging- en landbou-sektor insluit, sukkel saam met die wêreldmarkte en die ekonomie is nie immuun teen internasionale risiko’s nie.

“Daarby het ons ook nog nie die impak bepaal wat die koronavirus op die uitvoer na die Ooste, veral China, het nie. Dit kan veral skadelike gevolge vir ons sitrus- en sagtevrugtebedrywe inhou.”

Hy het ook gesê die verswakkende ekonomie het daartoe gelei dat die Oos-Kaap se aandeel van die nasionale tesourie negatief geraak is en die provinsie het R960 miljoen verloor in die 2020-mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) weens fiskale besparings deur die nasionale regering.

Om sake te vererger, is die voorwaardelike toekenning van toelaes ook met R422,1 miljoen verminder.

Mvoko het benadruk die onderprestering van provinsiale departemente is deels daarvoor te blameer.

“Daarom wil ek alle departemente aanmoedig om te verseker dat voorwaardelike toelaes in ooreenstemming met die voorwaardes daaraan verbonde ten volle bestee word om verdere verminderings van die nasionale regering te vermy.”

Politieke onstabiliteit

Die LUR het sy begrotingsrede afgesluit deur te sê net enkele munisipaliteite in die provinsie is finansieel volhoubaar.

Politieke onstabiliteit, verslegtende vlakke van dienslewering en finansiële onsekerheid dra volgens hom by tot die negatiewe uitkoms van oudits en munisipale prestasies.

Hy sê ’n toegewyde taakspan is aangestel om te fokus op uitdagings soos onreëlmatige uitgawes en om met planne vorendag te kom om te help met tekortkominge in munisipale regerings.

Hoewel Mvoko ’n staande toegejuig is ná sy abegrotingsred, sê Retief Odendaal, die DA se woordvoerder oor finansies in die Oos-Kaap, die begroting is uit voeling met die finansiële werklikhede in die provinsie.

Salarisse is die wit olifant

Hy sê Mvoko was nie bereid om die moeilike besluite te neem om werklik iets te doen aan die verkwisting nie.

“Mvoko het weer versuim om die olifant in die kamer uit te wys – die onbeheerste, onbekostigbare koste van salarisse in die openbare sektor. Dit het trouens gestyg van 65% tot 67% van die totale begroting. ’n Styging tot R57,5 miljard, en dit sal na verwagting teen die mediumtermyn R63,3 miljard bereik.

“Ons het gehoop die LUR gee besonderhede oor die herstrukturering van ons opgeblase provinsiale staatsbeheerde entiteite, wat die provinsie honderde miljoene kos, met baie min wat in ruil daarvoor gewys kan word.

“Pleks daarvan het ons vandag gehoor dat dié entiteite se begrotings verhoog is, met ’n kumulatiewe toename van bykans 12%.”

Meer oor:  Oos-Kaap  |  Oos-Kaapse Regering  |  Geld  |  Ngv-Instelling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.