Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Eis R3?m. ná nagmerrie-nadraai in hospitaal
Operasie vir penis lei tot been-afsit

’n Transgender bestuurder van ’n hardewarewinkel eis R3 miljoen nadat ’n operasie om vir hom ’n penis te gee so ’n nadraai gehad het dat sy linkerbeen geamputeer is.

Shaun Wiggill (47), van Roseville in die noordweste van Pretoria, het volgens hofstukke in die hooggeregshof in die stad sedert begin 2016 verskeie operasies ondergaan om van ’n vrou in ’n man te verander.

Hy het eers ’n mastektomie en ’n histerektomie ondergaan.

Vier chirurge het daarna op 26 Julie 2016 die operasie in die Steve Biko- akademiese hospitaal in Pretoria gedoen om vir hom ’n geslagsorgaan te skep. Vel van Wiggill se linkerarm en -been is gebruik om die penis te konstrueer. Die operasie op 27 Julie het sowat 11 uur en 25 minute geduur.

Volgens die hofstukke het Wiggill ná die operasie swelling, pyn en gevoelsverlies in albei bene en voete gehad. Hy kon ook nie sy linkervoet se tone beweeg nie.

Operasie het 11 uur en 25 minute geduur.

Die hospitaalpersoneel het dié probleem “talle ure” geïgnoreer, word aangevoer.

Die middag van 27 Julie het twee chirurge ’n verdere operasie aan sy linkerkuit gedoen om die drukking weens swak bloedsomloop in sy been te verlig. Teen dié tyd was daar nie meer ’n polsslag in sy linkerbeen nie en die been se vel het verkleur. Vier dae later is daar weer op die linkerbeen geopereer om die drukking te verlig.

Maar die volgende dag, 2 Augustus 2016, is Wiggill se linkerbeen bokant die knie afgesit.

Volgens Wiggill het hy weens die operasie ook neurologiese skade in sy regteronderbeen opgedoen, met ’n hangvoet. Hy het gevoelsverlies in sy regterbeen en sy regterkuit pyn.

Hy het in die hospitaal ’n drukseer aan sy agterkop opgedoen, asook ’n drukseer aan sy neus wat deur die suurstofpyp (vir die lang operasie) veroorsaak is. Hy beweer die druksere het ontwikkel weens onvoldoende verpleegsorg.

Wiggill voer aan die hospitaal was nalatig deurdat hy destyds geadviseer is om die chirurgie te ondergaan. Hulle moes nie in daardie stadium geopereer het nie weens die potensiële risiko van onvoldoende nasorg, behandeling en bestuur by die hospitaal.

Wiggill beweer hy is nie oor dié verhoogde risiko en die moontlike nadelige gevolge ingelig voor die operasie nie. As hy wel ingelig was, kon hy so ’n operasie uitgestel het.

Hy blameer die hospitaal dat hy “kompartementsindroom” van die linkerbeen opgedoen het en neurologiese skade aan die regterbeen vanweë die komplikasies van lang operasies onder narkose.

Wiggill het sy eis teen die Gautengse gesondheidsdepartement op 4 Februarie vanjaar ingedien. Teen die spertyd was daar geen reaksie nie.

Nadat Wiggill terug is hof toe is die departement nou gelas om inligting oor die saak openbaar te maak. Wiggill het nie gereageer op Rapport se versoek om kommentaar nie.

Meer oor:  Been  |  Eis  |  Operasie  |  Transgender  |  Penis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.