Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Oproep aan verpleegster se man: ‘U engel is nie meer met ons nie’

George Kepkey (56) het omstreeks 04:15 op Woensdag 20 Mei wakker geword van ’n ligte druk in sy sy. Hy was alleen. Sy vrou, Anncha Kepkey (52), ’n verpleegster van die Tygerberg-hospitaal, was toe al dae lank in die Melomed-hospitaal in Bellville nadat sy positief vir die koronavirus getoets is.

Hy was nog half deur die slaap, maar het oorgeleun na die regterkant van hul bed waar sy altyd geslaap het en gesê: "Moenie bekommerd wees nie, my maatjie, vandag word jy van daai ventilator afgehaal."

Wat George toe nie geweet het nie, is dat sy vrou van meer as 30 jaar pas gesterf het.

Om 07:3 het ’n verpleegster van Melomed hom gebel en die tyding aan hom oorgedra.

Haar woorde aan hom was: “Mnr. Kepkey, ek moet net vir u sê dat u klein engel nie meer met ons is nie.”

Kepkey se stem breek hartseer. Die woorde wat hy nog sê, verdwyn in sy snikke.

Hulle het mekaar in 1988 ontmoet. Sy was ’n derdejaarverpleegstudent. Dit was liefde met die eerste aanblik. Hulle is die volgende jaar getroud.

Hulle sou in Oktober vanjaar 31 jaar getroud gewees het.

Elke huweliksherdenking was ’n spontane viering. Hy weet nie wat vanjaar se huweliksherdenking vir hulle sou ingehou het nie.

Kepkey sê sy vrou het vir haar werk gelewe. “Sy was eerste verpleegster, dan ma en vrou. Ek het dit verstaan en haar ondersteun, want sy was daai omgee-mens wat almal wou versorg en vertroetel.”

Hy lag toe hy sê dat sy hom altyd ou “pêl” genoem het, en vir hom was sy “maatjie”.

Anncha Kepkey se profielfoto op haar Facebookblad. Foto: Facebook

Kepkey wat onlangs tot assistentverpleegkundebestuurder in die trauma-eenheid bevorder is, het volgens hom maklik skofte van 12 uur lank gewerk. Hoewel hy ook gewerk het, het hy hul twee seuns, Chadley (29) en Angeo (23), toe hulle nog klein was, versorg en ook na die huishouding omgesien.

Omdat Anncha elke dag met koronapasiënte gewerk het, het sy baie sterk daaroor gevoel dat hulle sosiale afstand in die huis moet toepas en ook gereeld hul hande moes was.

Hy het gesê dat Anncha op Sondag 26 April gaan werk het. Hy het haar meer as 30 jaar oral heen geneem. “Sy het mos nooit gebodder om haar rybewys te kry nie.”

Sy het die dag haar selfoon by die huis vergeet en ’n boodskap via ’n ander kollega gestuur dat hy haar selfoon werk toe moet bring.

“Ek het seker so 20 minute vir haar gewag toe ’n kollega uitgekom het en gesê het dat sy nou besig geraak het.”

Die volgende dag was ’n vakansiedag en Anncha was by die huis. Dis toe dat sy vir hom gesê het dat sy bietjie ongemaklik voel omdat hulle die vorige dag met baie koronapasiënte in kontak was. “ ’n Kollega wat saam met haar gewerk het, is ook op Maandag 27 April in Melomed opgeneem nadat die kollega hoofpyne gekry het.”

Kepkey het gesê dat sy op 4 Mei huis toe gekom het, bloedrooi in haar gesig. Sy het vir hom gesê dat sy haar laat toets het en baie benoud voel. “Dis toe wat sy weer beklemtoon het dat ons nou éérs sosiale afstand moet toepas.”

Hy het toe ook vir Chadley en sy vroutjie, wat swanger is met hul eerste kind, gebel en gesê dat hulle vir eers nie na hulle mag kom nie.

Anncha is op 5 Mei in die hospitaal opgeneem nadat sy met haar asemhaling gesukkel het. Dit was om 20:00. “Veiligheid was streng, ek kon nie eens saam met haar ingaan nie.” Dit was ook die laaste keer dat hy sy vrou lewend gesien het.

LEES OOK: Virus eis nog 'n verpleegster in Wes-Kaap 

Kort na middernag het sy vir hom ’n boodskap gestuur dat sy positief getoets is en dat hy en Angeo, hul jongste seun, hulle moet laat toets. Sy het nog vir hom gesê om hulle nie by Melomed te laat toets nie, maar om Louis Leipoldt toe te gaan omdat daardie hospitaal nie so besig is nie.

Hul toetsuitslae was negatief.

Anncha Kepkey en George Kepkey. Hy het gesê dat sy ’n jolige mens was, altyd vol grappies en baie lief was vir mense.

Op Vrydag 8 Mei het ’n kollega van Anncha, wat ook in die Melomed-hospitaal vir die koronavirus behandel is, gesterf. Sy het oorkant Anncha in dieselfde saal gelê.

“Ek het daardie dag twee oproepe gekry van mense wat gesimpatiseer het nadat hulle die boodskappe op Facebook gesien het.” Hy het gesê dat hy sy vrou onmiddellik gebel het, maar sy het nie geantwoord nie. Hy het toe uiteindelik die hospitaal gebel wat die saal se foon na haar geneem het. Sy verligting was groot toe hy haar stem gehoor het. Anncha het vir hom gesê dat sy nou op suurstof is. “Ek gaan nog lank lewe, ou pêl,” het sy vir hom gesê.

Anncha Kepkey en haar man, George Kepkey.

Die Maandag ná Moedersdag is Anncha op ’n ventilator geplaas. Die dokters het dae lank gesukkel om haar stabiel te kry. Die Vrydag het sy beter begin lyk en die verpleegsters het gesê sy is stabiel.

Op Maandag 18 Mei het haar toestand weer begin versleg en is hy die Dinsdag ingelig dat haar longe nie goed lyk nie.

Hy het toe mense landwyd in gebedsgroepe gevra om vir haar te bid. “Baie mense het Anncha geken en ons was verbaas oor hoe baie mense vir haar omgee en bid.”

Dokters het hom die dag gebel en gesê hulle gaan haar selfoon wegneem en ’n buis in haar longe plaas. Hulle het vir hom gesê dat hy nou met sy vrou moet praat.

“My laaste woorde aan haar was dat ek lief is vir haar en dat sy haar nie moet vermoei nie.” Hy kon nie hoor wat sy sê nie, maar dit het soos iets belangriks geklink.

Dit was die laaste keer dat hy haar stem gehoor het.

Anncha was net van plan om tot die ouderdom van 55 te werk. Sy wou hê dat hulle ’n huisie in Struisbaai moes koop wat hulle saam kon regmaak en sy wou na hul eerste kleinkind omsien.

“Ons was verlede jaar vir ’n naweek saam met ander vriende en ons kinders in Struisbaai. Sy het verskriklik baie foto’s, baie selfies geneem. Oe, my vrou het van selfies en shopping gehou. Dit, dit was haar hobbies.”

Hy is egter nog steeds van plan om hul aftreehuisie in Struisbaai te koop en reg te maak soos sy dit sou doen.

“Maar vir eers, vir eers wil ek my vrou se rol van bewusmaking voortsit. Ek wou eers nie uitpraat oor Anncha nie, maar ek weet ook dat sy dit haar doel gemaak het om mense oor die gevare van die virus in te lig.”

Kepkey sê mense moet besef dat die virus enigiemand kan besmet. Enige mens. “Mense moet dit ernstig begin opneem. Dit kan jou dood veroorsaak.

Anncha is verlede Woensdag in die Durbanville Memorial Park ter ruste gelê.

Meer oor:  Tygerberg-Hospitaal  |  George Kepkey  |  Kaapstad  |  Anncha Kepkey  |  Verpleegster  |  Covd-19  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.