Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Pa van George binne 24 uur verlam weens Guillain-Barré

’n Man van George het binne 24 uur van sy skouers tot sy tone verlam geraak weens Guillain-Barré-sindroom.

Johannes Munro (43), ’n depotbestuurder by ’n maatskappy wat kappies op bakkies monteer, en die pa van twee dogters van 14 en nege, is sedert September in die Mediclinic George.

Sy vrou, Annaline, vertel hy is op 19 September opgeneem en oorgeplaas na die waakeenheid. “Hy het die vorige week diarree gehad. Dit het geleidelik opgeklaar met voorgeskrewe antibiotika.

Johannes Munro Foto: Verskaf

“Die oggend van 17 September het hy prikkels in sy linkerpinkie en ringvinger gekry en die 18de het die ander hand se vingers ook begin prikkel. Teen die aand het die spierkrag van albei sy hande en arms verswak.

“Ons het ons huisdokter gekontak en as voorsorg is die medikasie gestaak. Op 19 September was sy bene swak. Teen die aand kon hy net sleepvoet loop. Ons het hom hospitaal toe gebring waar hy toe binne 24 uur van sy skouers tot tone verlam geraak het.”

Sy sê ná talle toetse, skanderings en lumbale punksies is hy met Guillain-Barré-sindroom – subtipe “Aman” gediagnoseer.

“Hy het dadelik binneaarse globulien-behandeling gekry, maar toe daar ná twee weke geen verbetering was nie, is besluit om plasma-uitruiling te doen. Hy is totaal afhanklik van verpleegsorg. Hy het tans minimale beweging in sy skouers, voete, kuite en dyspiere en geen beweging en gebruik van spiere in sy arms en hande nie.”

Volgens haar is dit frustrerend vir hom om onaktief en afhanklik van vreemdes te wees. “Vir my en die meisiekinders is hy ons hero en steunpilaar en ons mis hom ontsettend baie by die huis. Hoop, vertroue en liefde dra ons elke dag.”

Hulle is nog onseker van wanneer, en óf hy weer sal kan terugkeer werk toe. “Dinsdag was hy 65 dae in die hospitaal. Die finale rekening word met ontslag by die mediese fonds ingedien. Ons wag tans op goedkeuring van die mediese fonds vir toelating tot ’n rehabilitasiesentrum. Ons weet nog nie wat die totale mediese onkoste beloop nie en of daar moontlik nog onkoste sal wees vir tuisversorging, fisio- en arbeidsterapie en spesiale toerusting soos ’n rolstoel of loopraam nie.”

Johannes Munro in sy hospitaalbed. Foto: Verskaf

Sy sê hulle is ook bekommerd oor stygende Covid-19-gevalle waar hospitaalbesoeke enige oomblik ingeperk of selfs opgeskort kan word.

• ’n Gholfdag word op 11 Desember by die Kingswood-gholfbaan in George vir hom gehou. Die prys beloop R2 500 vir ’n vierbal. Skakel Louis Ehlers by 079 897 5598.

• Volgens die webtuiste af.approby.com word Guillain-Barré-sindroom veroorsaak deur die liggaam se immuunstelsel wat die perifere senuwees aanval, gewoonlik ná ’n infeksie. “Aman” beteken dat die senuwees wat beweging beheer, beïnvloed word.

Meer oor:  Verlam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.