Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Paarl-paartjie trotseer hul 3de staat van inperking
Helene Leonard
Helene Leonard by haar winkeltrollie. Foto: Jaco Marais

Vir ’n paartjie van die Paarl in die Wes-Kaap is ’n staat van inperking niks nuuts nie nadat hulle dit reeds in Spanje en Portugal beleef het.

Helene Leonard (43) en Johan Rabe (52) se reis na Spanje vroeër vandeesmaand is erg ontwrig deur ’n staat van inperking wat in dié land ingestel is terwyl hulle daar op vakansie was.

Ná tien heerlike, ontspanne dae is die staat van inperking op 13 Maart aangekondig. Die twee het vier dae daarna gesukkel om kos in die hande te kry en was bang dat hulle nie sou kon terugkeer na Suid-Afrika nie.

Leonard sê die ontberings wat hulle saam moes deurmaak, het haar laat wakker skrik oor die ware impak van die virus.

“Ná die inperking in Spanje was dit soos ’n rillerfliek – net plastieksakke wat soos tolbosse waai en nie ’n mens in sig nie. Ons het honderde kilometers aaneen gery en nie een enkele ander mens gesien nie,” sê sy.

“Daar het ek gesien wat gebeur as mense massas goed uit paniek aankoop. Die noodwerkers is heeldag besig en op hul voete, maar as hulle in die aand honger is en kos wil koop, is alles weg.”

Die paartjie het uiteindelik ’n taxibestuurder omgekoop om hulle oor die grens vanaf Spanje na Portugal (wat toe nog min gevalle gehad het) te neem, net sodat daar óók ’n staat van inperking aangekondig word.

Met baie moeite, ekstra uitgawes aan vliegtuigkaartjies en nog meer bekommernis, het die twee ’n dag later ’n vlug uit Portugal na Suid-Afrika gehaal.

Maandagaand het hulle ’n derde keer gehoor dat hulle moet tuisbly, maar dié keer is hulle in ’n bekende land.

Leonard het Dinsdag inkopies gaan doen in die Cape Gate-winkelsentrum in Kaapstad. Sy sê hoewel dit mag lyk of sy ook die winkels leeggekoop het, het sy net een van elke nodige item soos tandepasta, opwasmiddel en brood gekoop.

“In Spanje en Portugal het ek en Johan geleer om maskers en handskoene te dra, alles af te vee en net kos te eet wat uit pakkies kom. Hier in Suid-Afrika is dit nog nie die norm nie,” sê sy.

Hulle was die meeste op hul senuwees toe hulle op die onderskeie lughawens was voordat hul vlugte sou vertrek. “Lughawens is die plek waar die virus byna die ergste is. Dit was so moeilik om te dink daar is heel waarskynlik kieme rondom jou.”

Leonard sê nadat hulle verlede Dinsdag na Suid-Afrika teruggekeer het, het sy geen siektesimptome gehad nie. Hulle het hulself geïsoleer ter wille van die mense rondom hulle.

“Maar Johan het Saterdag begin siek voel. Hy was naar, duiselig en het maagwerkings gehad. Ek het toe besluit ons moet getoets word,” sê Leonard.

Maar sy het gesukkel om ’n laboratorium te kry wat bereid was om hulle te toets, aangesien Rabe se simptome nie presies die simptome is waarvoor die owerhede uitkyk nie. Dié simptome is kortasem, hoes, koors en ’n keelseer.

Leonard kon uiteindelik ’n plaaslike privaat hospitaal oortuig om hulle te toets. Ná vier dae is hul uitslae nog nie bekend nie.

Ek voel ek is so drie weke voor almal anders met my denke oor die virus.

Sy sê sy dra nie die beskermende handskoene en maskers omdat sy bang is vir ander mense nie, maar omdat sy bang is dat ander mense by haar kan aansteek.

“Johan het ons vriende in Suid-Afrika gebel en gewaarsku dat ’n staat van inperking hier ook gaan kom en dat hulle planne moet begin maak vir wanneer dit gebeur,” sê Leonard. “Maar min mense het ons geglo.”

Sy sê sy is ontsettend bly dat hulle die ervaring in Spanje en Portugal deurgemaak het, omdat hulle nou ’n beter begrip het van wat die pandemie eintlik behels.

“Ek voel ek is so drie weke voor almal met my denke oor die virus.”

Sy sê sy is ook nie verbaas dat die virus so wyd versprei in Suid-Afrika nie, omdat hulle hoegenaamd nie getoets is op die lughawe toe hulle teruggekom het nie.

“Ons het ’n vorm ingevul, dis al. Hulle het nie ons of ons bagasie met enigiets gespuit nie, en minder as 5% van die mense op die vlug terug het maskers gedra.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.