Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Paartjie ’n seun ryker ná swangerskap eers 'beëindig' is

Ruben van Deventer se ouers is smoorverlief op hul babaseuntjie wat eintlik nie met hulle moes gewees het nie.

“Dit was ’n rollercoaster, maar deur en deur die moeite werd,” sê ma Corlia van der Westhuizen.

Nadat drie dokters vir haar gesê het haar ongebore baba het nie ’n hartklop nie en sy op nege weke op aanbeveling die swangerskap beëindig het, is dit vir haar moeilik om te dink haar babaseun was amper nie hier nie.

Gerhard van Deventer en Corlia van der Westhuizen is gelukkig met hul gesin van vier. Van der Westhuizen hou klein Ruben vas en Novah, Van der Westhuizen se dogtertjie uit ’n vorige verhouding, sit op Van Deventer se heup.

Van der Westhuizen en haar verloofde, Gerhard van Deventer, wat in Heidelberg in Gauteng woon, was oorstelp van vreugde toe hulle verlede jaar net ná Kersfees uitvind sy is swanger.

Bloedtoetse het die swangerskap bevestig.

“Kort daarna het ons ’n dokter gaan sien. Hy het gesê alles lyk goed, maar dat die baba nog nie ’n hartklop het nie.”

In dié stadium was die paartjie nog nie bekommerd nie, “want die dokter het gesê dit is te vroeg en ek moet oor twee weke terugkom”.

Van der Westhuizen sê sy is daarna na haar huisdokter.

“Ek was toe sewe weke swanger, maar daar was nog geen hartklop nie. Die dokter het gesê dit wil voorkom of die baba reeds op vyf weke dood is, maar dat my liggaam dit nog nie besef het nie. Dokters het dit ’n gemisde miskraam genoem.”

Die paartjie was ten gronde, maar was nie reg om tou op te gooi nie en op nege weke het sy nóg ’n dokter gaan sien.

Dié dokter het voorgestel sy beëindig die swangerskap “omdat ’n miskraam onvermydelik is”.

“Ons was so opgewonde toe ons uitvind ek is swanger en ons was stukkend toe daar nie ’n hartklop is nie. My verloofde het so gehuil, want daar was niks wat hy kon doen nie.”

Corlia van der Westhuizen met haar pasgebore baba, Ruben van Deventer.

Van der Westhuizen het kort hierna vir die terminasieprosedure gegaan.

“Ná dit het ek bly siek voel. Die dokter het aanvanklik gesê dit sal ’n ruk neem vir die hormone om my lyf te verlaat, maar dit het nie beter geword nie.”

’n Maand later is sy terug dokter toe.

“Hy het voorgestel ons doen ’n sonar om seker te maak alles is uit ná die terminasieprosedure.

“Ek het net bly bid: ‘As ek weer swanger is, asseblief laat daar dié keer ’n hartklop wees.’ ”

Van der Westhuizen sê sy kan onthou sy wou nie na die skerm kyk nie, “maar toe die dokter geskok klink het ek gekyk en in plaas van ’n hartklop was daar toe ’n hele baba. Ek was toe 14 weke swanger.”

Die ginekoloog het later verduidelik die seuntjie is met millimeters misgeskraap.

Die paartjie het dadelik toetse laat doen om seker te maak hul baba het nie enige skade gely tydens die terminasieprosedure nie en hul gesonde baba is op 25 Augustus gebore.

Ruben is na die oud-Springbok Ruben Kruger genoem.

“Ek dink my verloofde is liewer vir hom as vir my,” skerts Van der Westhuizen. “Hy is rugbymal en vandaar ook die naam. Ons hoop hy word eendag ’n rugbyspeler.”

God is groot en Sy planne vir ons is eindeloos.

Sy sê Novah (4), haar dogtertjie uit ’n vorige verhouding, is net so opgewonde om ’n boetie te hê en wil haar ma met alles bystaan – van voeding tot doeke omruil.

Van der Westhuizen het haar storie ook op die Facebook-groep Mammas 24/7 geplaas.

Sy skryf: “Ná vele toetse, baie trane en baie bekommernis is ons die week geseën met ons wonderwerkseuntjie. 100% gesond en perfek. God is groot en Sy planne vir ons is eindeloos.”

Dr. Charles Lee, haar huisdokter, het aan Netwerk24 bevestig dat Van der Westhuizen wel vir ’n terminasieprosedure gegaan het, maar dat dit onsuksesvol was.

Só word terminasie gedoen:

Prof. Hennie Lombaard, akademiese hoof by die Universiteit van die Witwatersrand se skool vir ginekologie en verloskunde, sê ’n vrou se baarmoeder, waar ’n baba groei, word deur haar serviks met ’n lang voorwerp skoongeskraap.

In Van der Westhuizen se geval het dit onder narkose gebeur.

Lombaard sê ’n fetus beweeg eers vanaf 12 weke na die holte in die baarmoeder en is voor dit nog aan die endometrium geheg.

Hy sê omdat Van Der Westhuizen se terminasieprosedure so vroeg gedoen is en die fetus nog aan die endometrium vas was, het dit misluk.

Lombaard sê dit is moontlik dat dokters nie ’n hartklop kon kry nie “omdat die datums van die swangerskap dalk verkeerd was. Dit word ook nie altyd net aan datums gemeet nie, maar ook aan die grootte van die fetus.”

Meer oor:  Heidelberg  |  Wonderwerk  |  Dokters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.