Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Paasnaweek hou gevaar vir Oos-Kaap in, sê premier
Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse premier, oorhandig die sleutels van 93 nuwe voertuie vir die provinsiale gesondheidsdepartement aan Nomakhosazana Meth, LUR vir gesondheid. Foto: Facebook/Oos-Kaapse gesondheidsdepartement

Die Oos-Kaap het tans die laagste getal aktiewe koronavirusgevalle, maar beskou die komende Paasnaweek as ’n risiko wat die infeksies weer kan laat styg.

So het Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse premier, Vrydag gesê met die opening van nog ’n inentingsentrum by die Cecilia Makiwane-hospitaal in Mdantsane, naby Oos-Londen.

Hy waarsku die Paasnaweek word as ’n groot bedreiging vir die provinsie beskou, wat tans 197 aktiewe koronavirusgevalle het.

“Ons berei ons op ’n derde vlaag voor. Dit is duidelik daar sal ’n derde vlaag wees. Wetenskaplikes het gesê dit is onvermydelik en ons mense moet dit dus ernstig opneem,” sê Mabuyane.

“Covid-19 is dodelik. Ons probeer die inentingsprogram so gou moontlik uitvoer en soveel moontlik mense inent sodat ons kudde-immuniteit kan bereik.”

In die Oos-Kaap sal kudde-immuniteit na verwagting bereik word wanneer 3,7 miljoen mense ingeënt is.

Tot dusver het die provinsie 29 720 dosisse van die Johnson & Johnson-entstof ontvang, waarmee 19 575 gesondheidswerkers sedert middel Februarie ingeënt is.

’n Noodhelikopter maak gereed om by die Cecilia Makiwane-hospitaal in Mdantsane te land waar Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse premier, en Nomakhosazana Meth, LUR vir gesondheid, nog ’n inentingsentrum teen Covid-19 geopen het. Foto: Facebook/Oos-Kaapse gesondheidsdepartement

Hiervan is 8 828 gesondheidswerkers in die Nelson Mandelabaai-metro ingeënt, terwyl die Buffalo City-metro tot dusver 5 633 gesondheidswerkers ingeënt het en die O.R. Tambo-distriksmunisipaliteit 5 114.

Mabuyane sê die provinsie wil teen einde Mei fase 1 van die inentingsprogram, wat sowat 200 000 gesondheidswerkers insluit, afhandel. Hy sê dit is belangrik dat dié mikpunt behaal word aangesien die derde vlaag van infeksies na verwagting in die winter die provinsie sal tref.

“Dit maak ons bekommerd wanneer mense met ’n normale leefstyl voortgaan, want ons is steeds in ’n abnormale situasie,” sê hy.

“As regering doen ons ons bes met die hulpbronne tot ons beskikking en vra almal se samewerking.”

Hiermee het Mabuyane ook Vrydag 93 nuwe voertuie aan Nomakhosazana Meth, LUR vir gesondheid, oorhandig. Hiervan is 40 noodvoertuie, tien vir pasiëntvervoer en 43 vir forensiese patologie.

Meer oor:  Infeksies  |  Koronavirus  |  Oos-Kaap  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.