Die Covid-19-pandemie het bewys dat mense op geleende tyd is en nie so in beheer is as wat hulle wil glo nie.
So sê Ethelwyn Rebelo, kliniese sielkundige van Meaningful Minds in Germiston, oor die uitwerking van die pandemie op die mens se gees.
Sy voeg by: “Die wêreld soos ons dit ken, gaan nooit weer dieselfde wees nie.”
Die pandemie het reeds begin om nie net fisiek nie, maar ook geestelik sy tol te eis, soos Michelle* (28) aan Netwerk24 vertel het.
Niks ooit weer dieselfde
Michelle, ’n gekwalifiseerde skoonheidsterapeut van Johannesburg, het haar ma net voor die feestyd weens Covid-19 aan die dood afgestaan.
“Ek het nooit gedink ek sal my ma op hierdie manier verloor nie. Ek wou gehad het sy moet sien hoe ek ’n sukses maak van my lewe. Ek is gebroke en ek weet nie eens waar om die stukkies van my lewe te begin optel nie,” sê sy.
“Wat my die meeste breek is dat ek haar nie in haar laaste dae kon sien of groet nie omdat ek nie by haar bly nie.”
Michelle het ook weens die pandemie en inperking die grootste deel van haar inkomste verloor.
“Dis op die oomblik moeilik om met my geld uit te kom. Ek is seker gelukkig dat ek nie ’n kind het wat op my staatmaak nie, want ek weet nie hoe ek dan sou oorleef nie.”
Platgeslaan, maar kan nie berading bekostig
Volgens Michelle voel dit of sy platgeslaan is, maar sy oorweeg nie in die stadium berading nie omdat sy dit nie kan bekostig nie.
“Ek gaan nie jok nie, ek het by tye selfmoordgedagtes . . . die wêreld het letterlik net gestop en ek wil nie meer hier wees nie.”
Duduzile Sithole (29), ’n entrepreneur, het Covid-19 opgedoen, maar sy beskryf dit as ’n bedekte seën. Toe die gimnasiums gesluit was het Sithole besluit om gimnasiumtoerusting te verkoop.
“In die proses het ek die virus opgedoen en my ma het ook siek geword. Dit het my skuldig laat voel, ek kon die rede vir my ma se siekte wees.”
Die sielkundige Rebelo dink een van die hartseerste gevolge van die virus is dat mense weens die inperking nie in staat was om oor hul geliefdes wat dood is te rou nie.
'n Onsigbare vyand
“Met Covid baklei ons teen ’n onsigbare vyand en ons moet die bykomende angstigheid verwerk dat ons ook geïnfekteer kan word.”
Nog ’n sielkundige, Teboho Monyamane, sê die pandemie verhoog mense se angs en kan dalk bestaande sielkundige uitdagings vererger. Sy het ook ’n toename ondervind in mense wat sielkundige hulp soek.
Monyamane voel die regering moet geld beskikbaar stel sodat mense wat dit nie kan bekostig nie, die hulp kan kry wat hulle benodig.
Sy stel voor mense moet die inperking benut deur te oefen en hul persoonlike doelwitte vir die jaar te oordink.
* Michelle is ’n skuilnaam.