Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19: Gevolge van Paasnaweek kom

Die impak van Paasnaweek op koronavirusgevalle sal eers oor sowat twee weke sigbaar wees.

Die huidige getalle weerspieël nog nie die impak van die Paasnaweek nie, sê kenners.

Daar is Dinsdag landwyd die laagste daaglikse getal nuwe bevestigde koronavirusgetalle sedert Mei 2020 aangemeld, naamlik 437.

Prof. Susan Goldstein, ’n kenner van openbare gesondheid verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), sê die venstertydperk vir die virus is tussen tien dae en twee weke.

“Mense het beslis nie oor die langnaweek sosiale afstand gehandhaaf nie. Die getalle wat ons nou sien, is dus mense wat twee weke gelede die virus opgedoen het. Ons sal eers later sien of Paasnaweek ’n oplewing veroorsaak het wat tot die derde vlaag sal lei, al dan nie,” sê Goldstein.

paasnaweek, verkeer
Paasnaweek-verkeer by die Carousel-tolhek op die N1-hoofweg, noord van Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Sy sê Dinsdag se lae getal kan ook daaruit spruit dat mense hulle nie oor die langnaweek laat toets het nie. Talle toetssentrums was ook toe.

Goldstein sê die bevolkingsimmuniteit is hoër as verwag omdat nie alle gevalle amptelik aangeteken is nie, maar dis nog onduidelik presies wat die omvang daarvan is.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, meen ook Paasnaweek se invloed sal eers later blyk.

Sy sê mense is ook nou minder geneig om hulle te laat toets omdat hulle nie meer soveel geld in hul mediese fonds beskikbaar het vir toetse nie.

“Die meeste mediese fondse betaal net vir een negatiewe toets en mense het nie die geld om self te betaal nie,” sê Coetzee.

Volgens haar is die openbare sektor se data nie akkuraat nie en moet daar eerder na die data van die private sektor gekyk word, hoewel hulle ’n kleiner gedeelte van die bevolking bedien.

“Ek wonder ook hoeveel staatshospitale wel hul getalle vir die departement deurstuur,” sê Coetzee.

Netwerk24 het dié vraag aan die departement van gesondheid gerig, maar het nog geen terugvoer ontvang nie.

Netwerk24 het ook navrae gerig oor ’n teenstrydigheid in die positiewe gevalle wat in die Oos-Kaap aangemeld is.

Die provinsie het op 3 April gesê hy het 195 493 kumulatiewe koronavirusgevalle, waarna hy op 4 April slegs een nuwe geval aangemeld het vir ’n totaal van 195 494.

Op 5 April was die provinsie se aangemelde kumulatiewe gevalle egter weer op 195 493. Dit is dus onduidelik of die getalle korrek is.

Meer oor:  3De Vlaag  |  Pandemie  |  Virusgetalle  |  Covid-19  |  Paasnaweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.