Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Pandemie verlam ekonomie, nie inperkings’

Mense se beweging moet ingeperk bly omdat die gesondheidsorgstelsel nog nie gereed is vir Covid-19 nie, en omdat nog te min bekend is oor die aard van dié virussiekte.

Terselfdertyd is die regering vas oortuig dat dit die pandemie is wat ekonomieë verlam, en nie inperkingsmaatreëls nie.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake. Foto: Argief

So het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Dinsdag op ’n debat van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) oor die regering se hantering van Covid-19 gesê.

Volgens haar verkeer die regering van alle kante af onder druk oor sy hantering van die pandemie met meer as 90 hofsake wat sedert die aanvang van die inperking teen hom begin is.

“Ons het sommige van die sake verloor; ander het ons gewen. Sommige is buite die hof geskik en ander is nog aan die gang.

“Daar is diegene wat sê ons moes eerder ’n noodtoestand afgekondig het en dat ons ongrondwetlik optree. Aan die ander kant is daar diegene wat sê ons beweeg te vinnig deur die inperking uit te faseer en dat ons nie skole moet oopmaak nie,” sê Dlamini-Zuma.

Dennis Ryder, DA-LP, het in sy spreekbeurt gesê die regering het met sy Covid-19-strategie misluk.

“Te min beddens is oor ’n te lang periode voorberei en in die proses is die ekonomie vernietig. Dis die ANC wat die bed opgemaak het en nou moet ons almal daarop lê,” sê hy.

Volgens Ryder wil mense nooit hoor dat die regering die skuld vir Suid-Afrika se probleme op Covid-19 pak nie.

Hy sê die oorsaak van die land se beroerde situasie kan eerder toegeskryf word aan die plundering van staatshulpbronne voor die krisis, en aan die Covid-19-bevelsraad wat die gebroke ekonomie oor die afgrond gestoot het.

“In die eerste drie weke van die inperking het mense die regering ondersteun, maar dit het daarna in ’n outoritêre regering ontaard wat menseregte weggekalwe het. Onder minister Dlamini-Zuma is ontstellende en irrasionele regulasies bekragtig,” sê Ryder.

Dlamini-Zuma sê die regering het nie die regulasies eensydig opgestel nie en dat hy in gesprek was met ander rolspelers daaroor.

“Ons het ’n rivier probeer oorsteek. Partykeer het ons gegly en ander kere het ons vastrapplek gekry.”

Kenneth Mmoiemang, ANC-LP, sê mense wat teen die regering se hantering van die pandemie gekant is, moet besef dat lande oor die wêreld heen deur dieselfde soort uitdagings in die gesig gestaar word.

“Die ANC-regering het die verspreiding van die pandemie bekamp en ekonomiese beleide in plek gestel om die impak te verklein,” sê Mmoiemang.

“Globale en plaaslike projeksies vir die ekonomie lyk baie sleg. Wat belangrik is, is dat ons planne het om die ekonomie te herbou. Dit moet soortgelyk wees aan ’n post-oorlogsituasie,” sê Mmoiemang.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.