Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Pasiënte ‘sit dae lank op stoele en wag in Pelonomi’

Pasiënte met gebreekte arms en bene wat dae lank op stoele moet sit en wag om geopereer te word is maar net een van die wrede werklikhede in die ortopediese afdeling van die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein waarmee politici van die DA gister in aanraking gekom het.

Medialede was teenwoordig met die onaangekondigde oorsig-inspeksie deur Patricia Kopane, Vrystaatse DA-leier, en Mariette Pittaway, wetgewerlid en Vrystaatse gesondheidswoordvoerder van die party, in die hospitaal se kraam- en ortopediese afdelings.

’n Klomp pasiënte, van wie een al ’n week lank in die Pelonomi-streekhospitaal op ’n stoel moet sit en wag om vir ’n gebreekte arm geopereer te word. Die ander wag ook reeds etlike dae lank en slaap selfs snags op die stoele terwyl hulle wag op operasies in die ortopediese afdeling. Patricia Kopane, DA-leier in die Vrystaat, voer hier met die pasiënte onderhoude.Foto: Mlungisi Louw

Nie ver van die vertrek waar pasiënte met breuke soos sardientjies ingeryg sit en wag om geopereer te word, het onopgemaakte beddens in die linnekamer gestaan. Ook hier moet pasiënte slaap sonder die noodsaaklike gerief van ’n klokkie wat gelui kan word in geval van nood.

In dié pakkamer is ook stapels matrasse en ’n stukkende bed gevind.

Kopane het ná afloop van die inspeksie in ’n nuusverklaring gesê die besoek het gevolg op ’n staking in die hospitaal verlede maand toe veral personeel van die kraamafdeling geprotesteer het oor die personeeltekorte.

Gemiddeld 350 babas word per maand in dié hospitaal gebore.

Kopane sê daar is verskeie sake in die hospitaal wat nie reg loop nie. Dit is duidelik dat die nypende personeel- en infrastruktuurtekorte meebring dat die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gedoem is.

“Daar is nie voldoende toerusting in Pelonomi nie, lang wagtydperke is aan die orde van die dag, en so ook swak infrastruktuur. Ondanks ingryping van die Vrystaatse gesondheidsdepartement bly van die probleme maar net voortbestaan.”

So lyk verskeie stukkende toilette in die kraamsaal van die Pelonomi-streekhospitaal in Bloemfontein. Dit staan in onbruik en die deure is toegeplak.Foto: Mlunisi Louw

Kopane sê dit is duidelik dat die ANC se NGV nie gaan werk nie en net gesondheidsorg in Suid-Afrika verder gaan benadeel.

Kopane sê die NGV wil gesondheidsorg in Suid-Afrika nasionaliseer. “ ’n Mens kan net na Eskom en Transnet as voorbeelde kyk van wat die nadelige uitwerking van die nasionalisering van strategiese dienste is. Dit word verlam deur die ANC se korrupsie, wanbestuur en gebrek aan ’n politieke wil.”

Die Pelonomi-streekhospitaal bied groot uitdagings wat nie deur die NGV reggestel kan word nie.

“Ná die sluiting van die kraamsaal verlede maand, het die Vrystaatse gesondheidsdepartement beloof om nog 13 verpleegkundiges aan te stel, terwyl daar 33 vakante poste vir verpleegkundiges is. Van die 13 het nog net agt begin werk nadat hul aanstellings gefinaliseer is.”

Patricia Kopane, DA-leier in die Vrystaat, spreek haar skok en verontwaardiging in die Pelonomi-streekhospitaal in Bloemfontein uit waar pasiënte in ’n linnekamer en pakkamer moet slaap. Agter haar staan Mariette Pittaway, DA-lid van die Vrystaatse wetgewer. Foto: Mlungisi Louw

Kopane het gesê sommige personeel het ook hul kommer uitgespreek oor die deurlopende tekort aan mediese toerusting en die lang tydperk wat in die hospitaal gewag moet word om gebreekte toerusting vervang te kry.

“In 2015 is met die uitbreiding van die kraamafdeling begin, maar die uitbreidings is tot nou nog nie voltooi nie. Dit het ’n massiewe invloed op dienslewering in die hospitaal.”

In die ortopediese afdeling bestaan ’n lang waglys vir operasies, omdat net twee teaters beskikbaar is.

So moet pasiënte in die pakkamer in die Pelonomi-streekhospitaal slaap in ’n baie slordige en ongerieflike ruimte wat nie vir die versorging van pasiënte bedoel is nie. Foto: Mlungisi Louw

“Die ander vier operasieteaters was die afgelope ses jaar nie funksioneel nie. Dit is omdat die splinternuwe narkosemasjiene wat in 2014 aangekoop is, meganiese foute het. Die verskaffer van die narkosemasjiene het nog nooit die foute herstel nie, terwyl die ortopediese pasiënte nie geopereer kan word nie.”

Kopane het ook haar kommer uitgespreek oor die infrastruktuur in die hospitaal. Die vloere en mure is in ’n swak toestand.

“Dit is onaanvaarbaar dat van pasiënte verwag word om in ’n linnekamer te slaap terwyl die nooduitgang van die kamer vir pakplek gebruik word.”

Sy sê Pelonomi is net nog ’n voorbeeld van hoe die ANC-regering swak en siek Suid-Afrikaners met disrespek hanteer.

“Arm mense het geen ander keuse as om van die staat se gesondheidsgeriewe gebruik te maak nie en moet met mediese dienste van mindere gehalte tevrede wees.”

  • Senior verpleegkundiges in Pelonomi het dadelik in die teenwoordigheid van die media begin om vir die pasiënte met breuke wat op stoele sit en wag, beddens te reël.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.