Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Pediater geskors ná 2de kind dié jaar sterf

Die ouers van 16 kinders wat dood is of volgens hulle gesondheidsprobleme oorgehou het nadat hulle deur dieselfde Johannesburgse pediater geopereer is, het ’n WhatsApp-groep gestig om mekaar te onderskraag.

Zayyaan Sayed Foto: Facebook
Alissa Strydom is in 2016 dood. Foto: Facebook
Ethan Teubes. Foto: Verskaf

Dié dokter, prof. Peter Beale (73), is twee weke gelede geskors ná die dood van ’n tienjarige pasiënt. Dit was die tweede pasiënt van Beale wat dié jaar ná ’n operasie dood is. Beale self sê egter hy was nie verantwoordelik vir enige van sy pasiënte se dood of teëspoed nie.

“Dit is soveel nonsens. Dit is sleg genoeg om ’n pasiënt te verloor en ek het meegevoel met die familie,” het hy gesê oor die dood van die tienjarige seuntjie, Zayyaan Sayed.

Zayyaan is op 11 Oktober dood ná ’n roetine- laparoskopiese operasie vir gastro­esofageale reflukssiekte by die Netcare Park Lane. Sy long het glo platgeval.

“Uit die laboratoriumverslag wat ons ontvang het, blyk dit ’n laparoskopie was nie nodig nie, so in wese het my seun gesterf vir niks,” het sy pa, Mohammadh Sayed, dié week gesê. Hy het reeds regshulp ingewin, want hy wil hê Beale moet strafregtelik vervolg word.

Nadat die media oor Zay­yaan se geval berig het, het 15 ouers wat ontevrede is oor die behandeling wat hul kinders by Beale gekry het, vir Sayed gekontak.

“Ons het ’n WhatsApp-groep gestig waarop ons ons stories en ervarings met mekaar deel,” sê Lisa Strydom (36) van Bergbron aan die Wes-Rand. Haar eenjarige dogtertjie, Alissa, is in 2016 dood nadat sy ’n laparoskopiese prosedure by die Mediclinic Morningside ondergaan het.

Beale het Saterdag vir Rapport gesê die raad op gesondheidsberoepe (RGBSA) het Alissa se dood ondersoek en bevind dat hy nie aanspreeklik was vir haar dood nie.

Nog ’n lid van die groep is René Moorcroft (41) wie se dogter Monique (12) in September vanjaar dood is. Sy het aan Hirschsprung se siekte gely en is dood ’n dag ná die laaste van ’n reeks operasies deur Beale.

Moorcroft sê sy weet waaraan haar kind dood is nie. “Selfs prof. Beale het nie geweet wat gebeur het nie. As ’n dokter nie weet nie, hoe moet ons gewone mense weet?”

Beale het gister gesê hy het nie insae gehad in die nadoodse ondersoek nie en hy weet daarom nie wat Monique se dood veroorsaak het nie.

Die driejarige Ethan Teubes, een van ’n tweeling, is in Maart 2012 dood in wat ’n roetine-operasie moes wees. Hy het ook Hirschsprung se siekte gehad. Sy ouers, Ethan en Deborah, sê nadat Beale hom geopereer het, het hy hulle verseker alles is onder beheer.

“As ma kon ek sien my kind was nie reg nie. Hy het pyn gehad, was ’n vreeslike kleur, naar en sy asemhaling was soos dié van ’n vroeggebore baba,” sê Deborah. Hy het ’n stuipe-aanval gekry en toe ’n hartaanval. Enkele dae later was hy breindood. Die dag voor die masjiene afgeskakel is, was die laaste keer wat die ouers Beale gesien het. Oor Ethan se dood het Beale gister gesê hy is onskuldig bevind aan enige nalatigheid.

Die RGBSA het intussen gesê hy ondersoek drie hangende klagte teen Beale.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.