Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Pelonomi deur eise van bykans R2 miljard bedreig

Die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein word deur regseise van bykans R2 miljard in die gesig gestaar, het die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) se oorsigkomitee gehoor. Die komitee het die hospitaal Donderdag besoek.

Dr. David Motau Foto: Twitter

Dr. David Motau, hoof van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, het gesê die presiese bedrag van die eise deur pasiënte beloop nou R1,9 miljard en dit bedreig die voortbestaan van gesondheidsorg in die Vrystaat.

Hy het bevestig dat die eise die afgelope 11 maande alleen met R582 miljoen toegeneem het.

“Die probleem is dat ’n mens nie toegelaat word om te begroot vir die regseise nie omdat van die standpunt uitgegaan word dat geen dokter of verpleegkundige nalatig mag wees of wanpraktyke mag beoefen nie.”

Motau het bevestig dat altesaam R21,5 miljoen in die jongste tyd aan mediese regseise uitbetaal is.

“ ’n Rede waarom eise in die hof verloor word, is dat verpleegkundiges en dokters met pasiënte saamwerk en lêers vir hulle uit die hospitaal steel. Ons kan nie ’n hofsaak wen sonder dat ons die lêer en inligting van die pasiënt tot ons beskikking het nie.”

Motau het gesê onreëlmatige uitgawes van die Vrystaatse gesondheidsdepartement was van die hoogste van al die departemente toe daar in die 2009-’10-boekjaar “vryheid vir almal was om te doen wat hulle wou”.

“Ons het sedertdien groot sukses behaal om daardie onreëlmatige uitgawes te verminder.”

Die R30 miljoen wat die Vrystaatse gesondheidsdienste van die Lesotho-regering ontvang het, is gedeeltelike betaling vir die R93 miljoen wat Lesotho skuld vir die behandeling van burgers van dié land in die Pelonomi- en Universitas-hospitale.

“Dié skuld bly egter groei.”

Nog ’n frustrasie is dat die Pelonomi-hospitaalterrein permanent ’n bouperseel is.

“As ons oor tien jaar die geld neem wat ons jaarliks aan die verouderde hospitaal bestee vir onderhoud en vernuwing kon ons waarskynlik ’n nuwe hospitaal gebou het. Maar daar is eenvoudig nie geld om ’n nuwe hospitaal te bou nie.

“Die Vrystaatse gesondheidsbegroting van R567 miljoen moet gebruik word om 200 klinieke en 32 hospitale te bedryf.”

Die Pelonomi-hospitaal. Foto: Netwerk24

Hy het ook gesê die Pelonomi-hospitaal beweeg weg van ’n stelsel om dienste uit te kontrakteer soos wat met die Buthelezi-ambulanse gebeur het.

“Ons is nou weer besig om ambulansdienste en spyseniering in te kontrakteer omdat dit goedkoper is.”

Motau het ontken dat daar nie medikasie vir vigspasiënte beskikbaar is nie.

“Wanneer die kontrakteur verskaffingsprobleme het, kan dit gebeur dat ons nie pille kry nie, maar daar is alternatiewe medikasie beskikbaar.”

Motau het gesê die Vrystaatse gesondheidsdepartement is van 15 Februarie vanjaar nie meer onder administrasie nie.Personeelaanstellings moet egter nog deur die tesourie goedgekeur word.

Baesi Ramodula, uitvoerende hoof van die hospitaal, het gesê vordering word gemaak om ’n behoorlike liasseringstelsel vir pasiënte-lêers in werking te stel. Dit was een van die aanbevelings van die komitee op sy vorige besoek.

Medikasie se beskikbaarheid staan nou op 83%.

“ ’n Hospitaalraad is intussen aangestel. ’n Totale opgraderingsplan vir die hospitaal is ook beskikbaar, personeel is aangestel en nog gaan aangestel word, het sy in haar voorlegging gesê.

Jomo Nyambi, voorsitter van die oorsigkomitee, het gesê die komitee kan sien dat verbeterings by Pelonomi aangebring is sedert hulle laaste besoek, maar dat daar nie uitvoering gegee kon word aan al die aanbevelings nie weens ’n gebrek aan geld.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.