Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Pelonomi: Duisende babas, géén ginekoloë

Die Pelonomi-hospitaal waar byna 5 000 babas in die afgelope jaar gebore is, het in dié stadium geen heeltydse ginekoloog om swanger vroue te ondersoek of verloskundige om met geboortes te help nie.

Nie minder nie as vyf spesialiste van die eenheid vir obstetrie en ginekologie, onder wie die eenheid se hoof, het die afgelope vyf maande bedank.

Een van die spesialiste, wat anoniem wil bly, sê hy en van sy kollegas was erg omgekrap oor die manier waarop hulle deur die Vrystaatse departe-ment van gesondheid behandel is, asook oor die dienslewe-

ring van die departement. Hy wou nie verder hieroor uitwei nie.

Die spesialiste wat bedank het, is dr. Gerhard Hanekom, wat op 31 Desember 2015 bedank het en Kaapstad toe is, dr. Johan Nortjé, hoof van die kliniese eenheid (G1), wat op 29 Februarie vanjaar bedank het, dr. Eugenia Magopa en dr. Martins Mohosho, wat albei op 31 Maart vanjaar bedank het, en dr. Tomé Honing, wat op 30 April vanjaar bedank het.

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, het aan Volksblad die name verskaf van die spesialiste wat bedank het, asook die redes volgens hom vir hul bedanking.

Mvambi sê swanger vroue besoek in dié stadium ginekoloë by staatsklinieke elders as by Pelonomi vir voorgeboorte-ondersoeke. Vir bevallings word verloskundiges per afspraak gehuur.

“Die hospitaal het van April 2015 tot Maart 2016 altesaam 4 792 bevallings gehanteer,” sê Mvambi.

Hy sê die 4 792 bevallings is saamgestel uit 123 waarmee hulp binne Pelonomi verleen is, 2 128 normale geboortes binne die hospitaal en 2 541 bevallings waarvoor keisersnitte nodig was.

Mvambi sê Mohosho het die diens verlaat om ’n private praktyk te bedryf en vir ander professionele moontlikhede.

Hy sê Nortjé is na die mediese fakulteit van die Universiteit van die Vrystaat (UV) waar hy doseer. Hy kom steeds op rotasiegrondslag na Pelonomi om dokters wat by beddens opleiding kry, by te staan en te evalueer.

Volgens Mvambi het Hanekom en Honing Pelonomi verlaat om verder te studeer.

Hy sê Magopa het bedank weens wat hy bestempel het as “die hoë werklading in Pelonomi waar swanger vroue van oor die provinsie heen ondersoek en bygestaan word”.

Mvambi sê die diens in Pelonomi is in dié stadium bestendig.

“Ons bedryf die diens met die gedeelde diensleweringsmodel van die Heidedal-gerief, Nasionale Distrikshospitaal, Universitas- en Botshabelo-distrikshospitaal en op ’n akademiese grondslag.”

Dr. Thando Nondabula neem as hoof van die eenheid obstetrie en ginekologie by Pelonomi waar. “Ons is in die proses om twee sessie-spesialiste en ’n hoof vir die eenheid aan te stel,” sê Mvambi.

Meer oor:  Babas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.