Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Pfizer-entstof minder doeltreffend, maar ...

Die entstof van Pfizer-BioNTech waarvan Suid-Afrika 20 miljoen dosisse gekontrakteer het, is wel minder doeltreffend teen die Suid-Afrikaanse variant van die koronavirus 501Y.V2 wat hier in omloop is.

Dit was Sondag die reaksie van prof. Barry Schoub, voorsitter van die ministeriële komitee oor entstowwe wat die regering amptelik raad gee oor dié kwessie.

Dit volg nadat kliniese navorsing in Israel glo bevind het dat die Pfizer-entstof, tot ’n onbekende mate, minder doeltreffend teen 501Y.V2 is.

Reuters en Al Jazeera het Sondag berig dat navorsers van die Universiteit van Tel Aviv en Israel se gesondheidsorgverskaffer Clalit tot die gevolgtrekking gekom het dat die Suid-Afrikaanse variant by die beskerming van Pfizer/BioNTech kan “deurbreek”.

Volgens Schoub weet plaaslike wetenskaplikes dit al lankal, hoewel hy benadruk dat die betrokke studie nog nie aan portuurbeoordeling onderwerp is nie.

Professor Barry Schoub
Professor Barry Schoub.

Hy verdedig egter die ontplooiing van die Pfizer-entstof deur te verwys na ander beskikbare navorsing, asook die tegnologie agter die Pfizer-entstof. Daarvolgens sal dit steeds vir by verre die meeste mense beskerming teen hospitalisering en sterfte weens 501Y.V2 bied.

“Die kans is baie goed dat die Pfizer-entstof die koronavirus, vir by verre die meeste mense, tot niks meer as ’n verkoue sal reduseer nie. Dit sal ook ons ekonomie kan oophou,” voeg hy by.

Ingevolge navorsing van Pfizer-BioNTech, wat in die New England Journal of Medicine gepubliseer is, was die entstof wel minder doeltreffend teen die 501Y.V20-variant, hoewel dit steeds daarin kon slaag om die variant te neutraliseer.

Laboratorium-navorsing van Pfizer-BioNTech, waarin die bloedserum van 15 mense geneem is wat ingeënt is, wys wel dat Pfizer-BioNTech minder doeltreffend teen 501Y.V2 werk, maar die serum kon steeds daarin slaag om dieselfde variant te neutraliseer.

Boonop het Pfizer vroeër vandeesmaand in April in ’n verklaring aangekondig dat, ingevolge ’n nuwe ontleding, sy entstof 100% doeltreffend is om Covid-19-gevalle in Suid-Afrika, waar die variant dominant is, te verhoed.

Die kans is baie goed dat die Pfizer-entstof die koronavirus, vir by verre die meeste mense, tot niks meer as ’n verkoue sal reduseer nie. Dit sal ook ons ekonomie kan oophou.

Volgens Schoub het navorsing wel gewys dat die Pfizer-entstof, vergeleke met ander weergawes van Sars-Cov-2, tot agt maal minder doeltreffend is, maar hy verduidelik dat dieselfde navorsing steeds gewys het dat hy die variant kon neutraliseer.

“Omdat die Pfizer-entstof, sowel as die een van Johnson & Johnson, op ’n spesifieke manier aan die reseptor-bindende domein van die virus vasklou, gee hy veel beter immuunbeskerming as natuurlike infeksie.”

In teenstelling, verduidelik Schoub, het die AstraZeneca-entstof, waarvan die regering vroeër ontslae geraak het, slegs beskerming gebied op ’n vlak wat deur natuurlike infeksie opgewek is.

Kliniese navorsing wat in Suid-Afrika uitgevoer is, het boonop vroeër bepaal dat die AstraZeneca-entstof slegs 10% tot 22% doeltreffend is om ligte tot matige Covid-19 te keer.

Nog kliniese navorsing wat in Suid-Afrika uitvoer is, het ook reeds bewys dat die plaaslike variant tot wisselende mates die doeltreffendheid van die entstowwe van Johnson & Johnson en Novavax verminder.

In die geval van J&J, waarvan die regering 31 miljoen dosisse verseker het, het kliniese navorsing gewys dat hy 85% doeltreffend teen 501Y.V2 werk om ernstige Covid-19 te verhoed, en 56% doeltreffend werk teen matige gevalle.

Sowat 1 miljoen dosisse van J&J word vandeesmaand verwag en verdere besendings van miljoene dosisse van J&J en Pfizer in die volgende paar maande.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.