Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Plek vir dié uit Wuhan gesoek

'n Span regeringsamptenare was Vrydag hard op soek na ’n geskikte plek waar die 184 Suid-Afrikaners wat vanuit Wuhan in China gerepatrieer gaan word, gehuisves kan word.

Dr. Robyn Reed
Dr. Robyn Reed van Hilton, wat Suid-Afrika se eerste Korona-pasiënt behandel het. Foto: Moeketsi Mamane

Die soektog is begin nadat gesprekke tussen die regering en die Vrystaatse vakansie-oord waarheen hulle sou gegaan het, op ’n dooiepunt uitgeloop het.

Wuhan is die episentrum van die hoogs aansteeklike koronavirus-uitbreking.

Die Black Mountain Hotel by Thaba Nchu het volgens twee regeringsamptenare wat by die proses betrokke is, die afgelope week probeer om die huurbedrag wat die regering sou betaal, drasties te verhoog.

Peter Leonard, hotelbestuurder, het dit Vrydag ontken en gesê hul vrese oor die toekomstige negatiewe uitwerking op die hotel se sake kon nie besweer word nie. 

Sommige gaste wou reeds hul besprekings kanselleer, het hy gesê.

Volgens hom is hulle bang vir die uitwerking op die personeel se toekomstige inkomste, asook die veiligheid van mense wat in die omgewing woon. Hulle het daarom onderhandelinge beëindig.

Hilton-sakeman ‘spanne beter’  

Intussen het die 38-jarige sakeman van Hilton naby Pietermaritzburg wat die eerste Covid-19- pasiënt in Suid-Afrika is, Donderdag gesê hy voel reeds spanne beter. 

Hy is in selfkwarantyn tuis.

“Ek skat die ergste is verby en ek begin dit nou hanteer,” het die man, wat anoniem wil bly, gesê. Hy, sy vrou en agt vriende was op ’n skivakansie in die noorde van Italië en het Sondag teruggekeer.

Hy is onseker waar hy die virus opgedoen het, maar vermoed dit was op hul reis tussen Zürich in Switserland en die ski-oord in Livigno. Hulle het via Dubai gereis en van daar regstreeks na die King Shaka-lughawe by Durban gevlieg.

Die man sê die laboratoriumpersoneel was ook op hul hoede en het beskermende klere gedra.

Die hele vriendekring en sy twee seuns is getoets. Hulle wag nog op die uitslae. “Ek het Sondagaand begin olik voel en griepsimptome begin kry. Dit het Maandag ál erger geword.” Hy is Dinsdag dokter toe. 

Dr. Robyn Reed van Hilton het hom dadelik laat toets. Sy en die spreekkamer se verpleegster is nou ook in selfkwarantyn. 

Die man sê die laboratoriumpersoneel was ook op hul hoede en het beskermende klere gedra.

Hy moes 48 uur op die uitslag wag en is aangesê om homself intussen tuis af te sonder.

Dr. Zweli Mkhize, die minister van gesondheid, het Donderdag skaars twee uur nadat hy self die uitslag gekry het, aangekondig die man is “pasiënt zero” – “nog voordat ek regtig kon verwerk wat met my aan die gang is”.

Hy is Donderdag as voorsorgmaatreël in ’n staatshospitaal in kwarantyn geplaas. Hy het Vrydag gesê hy verwag om binne drie tot sewe dae nuus oor sy vordering en ontslag te kry. En dan gaan hy heel eerste sy vrou en seuns “ ’n baie groot en lang druk gee”.

“Dit is ’n virussiekte en daar is nog nie ’n kuur nie. ’n Mens kan net die simptome behandel. Maar, hou duim vas, ek voel baie beter as Woensdagmiddag en vandag (Donderdag) gaan dit goed.”

Bly kalm, was hande 

Reed het Vrydag aan Isabel Venter gesê toe die man haar kom spreek, was daar dadelik gevaartekens wat die aandag getrek het.

“Benewens sy hewige griepsimptome was die vernaamste ander faktor natuurlik dat hy onlangs in Italië was,” het sy gesê.

Hy het nie baie gehoes of genies nie, maar het koors, lyfseer en ’n kwaai hoofpyn gehad. Nadat hy positief vir die virus getoets het, het ’n span van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes Reed raad gegee. 

Sy het die publiek aangeraai om nie paniekerig te raak omdat die virus nou in Suid-Afrika is nie. “Moenie aan jou gesig vat nie en was jou hande gereeld,” is haar raad.

Geen staatskole in KwaZulu-Natal is gesluit nie.

Derek Braans, hoof van Cowan House Preparatory School waar die pasiënt se twee seuns skoolgaan, het Vrydag gesê hulle het Donderdag hul deure gesluit en het Vrydag gesluit gebly. “Ons is ’n onafhanklike skool en het besluit om baie versigtig te wees.”

Geen staatskole in KwaZulu-Natal is gesluit nie.

Mkhize het Vrydag op ’n nuuskonferensie by Cowan House gesê daar is vasgestel 18 mense het noue kontak met die man gehad.

“Hulle is almal getoets en ingelig dat hulle in self-opgelegde kwarantyn moet gaan totdat ons hul uitslae kry.” Een van die 18, ’n inwoner van Mount Edgecombe, is skynbaar wel in kwarantyn in ’n hospitaal. – Niyanta Singh, The Witness, en News24 

Meer oor:  Thaba Nchu  |  Covid-19-Virus  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.