Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Polisie sál jou vang as jy met sigarette rondry, sê Cele

Suid-Afrikaners wat met sigarette in hul motor betrap word, sal deur die polisie in hegtenis geneem word omdat dit ’n misdaad bly totdat die regulasies daaroor verander het, waarsku Bheki Cele, minister van polisie.

Hy het die land Vrydag saam met Cassel Mathale, sy adjunk, en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, op ’n virtuele nuuskonferensie uit Pretoria toegespreek oor onder meer hoe Suid-Afrikaners tot dusver aan die regulasies van die staat van inperking voldoen het.

Hy het ook gepraat oor die vuurwapenamnestie wat op 31 Mei verstryk.

Hy het vrae oor beweringe dat die huidige verbod op drank en sigarette tot vlak 1 van die inperking verleng kan word, ontwyk en net gesê dat dit druk in die nasionale koronavirus-bevelsraad bespreek word en dat hy as lid daarvan sy insae daaroor in die raad lewer.

Lees ook: R20 per sigaret: Is dit dalk rokers se lot tot vlak 1?

Pres. Cyril Ramaphosa of dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, sal volgens Cele binnekort aankondigings hieroor en oor ander regulasies vir vlak 3 van die inperking doen nadat Ramaphosa die afgelope week wyd daaroor met verskillende sektore gekonsulteer het.

Volgens Cele is daar ná 57 dae van inperking reeds sowat 230 000 sake deur die polisie geopen teen byna dieselfde getal mense wat die regulasies oortree het.

Dit was onder meer vir alkohol- en sigaretverwante oortredings, onwettige byeenkomste, mense wat buite hul huis was, asook vir oorgrens- of interprovinsiale bewegings, sake-oortredings en vervoerwante oortredings van veral taxi’s.

Op die vraag waarom mense in hegtenis geneem word as hulle met drank in hul motors betrap word, het Cele gesê die regulasies is duidelik daaroor dat die vervoer van drank onwettig is.

“Of die drank nou in jou mandjie of sak is, jy mag dit nie van een plek na ’n ander vervoer nie. Jy kan dit net in jou eie huis drink.

“Net so mag jy sigarette ook net in jou huis rook. Dit is nie onwettig om in jou huis te rook as die sigarette daar was nie.

Of die drank nou in jou mandjie of sak is, jy mag dit nie van een plek na ’n ander vervoer nie. Jy kan dit net in jou eie huis drink. Net so mag jy sigarette ook net in jou huis rook. Dit is nie onwettig om in jou huis te rook as die sigarette daar was nie.

“Die probleem kom in as ons sigarette in jou motor vind en jy nie kan verduidelik waar en wanneer jy dit gekoop het nie.

“As jy duisende sigarette in jou huis het en dit daar rook, sal ons nie in jou huis kom om jou te arresteer nie. Of as jy in jou huis drink nie.

“Maar om sigarette te koop en te verkoop is onwettig. Totdat die regulasies verander word, sal dit ’n misdaad wees om dit te doen.”

Volgens Cele is die meeste oortredings in die Wes-Kaap, die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng, waar die infeksievlakke ook die hoogste in Suid-Afrika is.

Mense is of boetes opgelê of op waarskuwing vrygelaat. Ander is uit op borgtog en die res word weens ernstige misdade vervolg.

Volgens hom buit georganiseerde misdaadsindikate die verbod uit en het hulle ook hul smokkelbedrywighede uitgebrei na handel in onwettige en vervalste sigarette en drank.

“Ons het ook ’n styging gesien in die smokkel van onwettige drank en tabak tussen Suid-Afrika en buurlande soos Botswana, eSwatini, Lesotho, Mosambiek en Zimbabwe, asook die verkoop van dié produkte in die sluikhandel.”

Soldate het in Maart beslag gelê R1,07 miljoen se onwettige drank en sigarette aan Suid-Afrika se grense met Mosambiek en Zimbabwe en in April op R1,6 miljoen s’n.

Die probleem kom in as ons sigarette in jou motor vind en jy nie kan verduidelik waar en wanneer jy dit gekoop het nie.

Die polisie het in April aangekondig dat daar ’n dramatiese afname was in veral die kontakmisdaad-kategorie – wat huishoudelike geweld en die trio-misdade van motorkapings, huis- en sakerooftogte insluit – teenoor die vergelykende tydperk verlede jaar.

Daar was volgens hom wel meer motorkapings in die eerste twee weke van vlak 4 as in vlak 5 – met die meeste voorvalle in Gauteng, die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap.

Daar was tydens die inperking ook net vier transito-rooftogte vergeleke met die 26 in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Volgens Cele is 611 polisiebeamptes tot dusver landwyd positief vir die koronavirus getoets. Van hulle het 101 al herstel en ses is dood. Meer as 3 000 beamptes is óf in selfisolasie óf onder kwarantyn.

Verder is 121 polisiekantore landwyd ontsmet nadat beamptes daar positief getoets is.

Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat ondersoek volgens hom beweringe dat polisiebeamptes ’n joernalis van Ficksburg in die Vrystaat aangerand het, asook alle ander voorvalle van polisiewreedheid tydens die inperking.



Vuurwapenamnestie eindig op 31 Mei

Die huidige vuurwapenamnestie-tydperk verstryk einde Mei, maar Cele sê verskeie versoeke is ontvang om dit te verleng.

Hy sê sy departement het hieroor aan die parlement geskryf nadat ’n skerp afname in die vrywillige indien van vuurwapens tydens die inperking waargeneem is.

“Sedert Desember (2019) is derduisende vuurwapens en ammunisie ingedien en in April vanjaar net 385. Ons glo dit is weens die beperking op die beweging van mense tydens die inperking, veral omdat die indien van vuurwapens nie as ’n noodsaaklike diens gekategoriseer is nie.”

Volgens Cele waardeer die polisie die meer as 16 000 ingediende vuurwapens. Dit sluit 795 geërfde vuurwapens, asook 140 000 patrone in.

“Dit is belangrik om te onthou dat die vuurwapenamnestie een van ons vele ingrypings is om die verspreiding van onwettige en ongewenste vuurwapens op ons strate te beperk. Dit sal help om ernstige en geweldsmisdade, wat ons gemeenskappe voortdurend teister, te laat afneem,” het Cele gesê.

Meer oor:  Koronavirus  |  Vuurwapenamnestie  |  Sigarette  |  Bheki Cele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.