’n Bekende supermark in Brits in Noordwes is gesluit nadat die waarnemende bestuurder Covid-19-regulasies oortree het.
Dié waarnemende bestuurder van die supermark is vir sy optrede beboet.
Alpheus Koonyaditse, woordvoerder van Noordwes se departement van gemeenskapsveiligheid, sê die supermark moes sluit nadat die winkel se bestuurder Donderdag positief vir die koronavirus getoets is en huis toe gegaan het.
“Ten spyte van die feit dat die bestuurder met die helfte van die personeel kontak gehad het, het die winkel steeds Vrydag oopgemaak sonder dat enigiemand geïsoleer het of die winkel ontsmet is.”
Koonyaditse sê die winkel het soos normaal voortgegaan, al het die bestuurder ook kontak met twee van die assistentbestuurders gehad.
“Die assistentbestuurder kon nie antwoorde verskaf toe hy gevra is hoekom die winkel oop is en hy en die ander assistentbestuurder by die werk is nie,” sê Koonyaditse.
Jy sou dink dat winkels die voortou sou neem om seker te maak die maatreëls word gevolg.
Hy sê die assistentbestuurder het geweet hy en die ander assistent het kontak met die bestuurder gehad wat positief getoets is.
Die polisie in Brits het toe onmiddellik opdrag gegee dat die winkel gesluit word.
’n Saak is ook teen die winkel aanhangig gemaak, terwyl die waarnemende bestuurder beboet is.
Koonyaditse sê die winkel sal ook eers ontsmet moet word voordat dit weer vir besigheid kan oopmaak.
Sello Lehari, LUR vir gemeenskaps- en vervoerbestuur in Noordwes, het sy skok uitgespreek oor winkels wat nie die nodige Covid-19-regulasies volg nie.
Lehari het winkelsentrums Vrydag besoek en tot sy skok besef talle van die winkels voldoen glo nie eens aan die basiese Covid-19-maatreëls nie.
“Die LUR het met nadere ondersoek gevind dat sommige winkels nie eens plakkate het wat inkopiegangers aanmoedig om maskers te dra nie. Van hulle het ontsmettingsmiddels gehad, maar dit was nie in die winkels se ingang nie,” sê Koonyaditse.
Lehari het glo van die winkels beveel om te sluit omdat hulle nie die regulasies nagekom het nie.
“Jy sou dink dat winkels die voortou sou neem om seker te maak die maatreëls word gevolg. Dit is regtig hartseer dat die basiese Covid-19-maatreëls geïgnoreer word,” het Lehari gesê.