Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Politici, premiers en predikante wou indruk in die entstof-ry

Planne om politici, premiers, predikante en predikers voor in die tou te laat staan om Covid-19-inentings te kry, is die afgelope week ter elfder ure gefnuik danksy ingryping deur die Medisynebeheerraad.

Pres. Cyril Ramaphosa is Woensdag in Khayelitsha ingeënt. Foto: Brenton Geach

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdag, sowat ’n uur voordat hy die sesde persoon in Suid-Afrika geword het wat teen Covid-19 ingeënt is, ’n verklaring uitgereik dat “premiers, LUR’e, en leiers uit die burgerlike samelewing, geloofsorganisasies en tradisionele leiers” in die openbaar ingeënt sal word. Dit sal gedoen word om “ ’n voorbeeld te stel” dat die entstof veilig is.

Prof. Glenda Gray, medeleier van die navorsing wat tans in Suid-Afrika oor die gebruik van die Johnson & Johnson (J&J)-entstof gedoen word, het egter besef dié besluit is teenstrydig met ’n regulasie wat deur die Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) neergelê is. Daarvolgens word die J&J-entstof vir gebruik in Suid-Afrika goedgekeur as deel van ’n navorsingstudie.

Dr. Boitumelo Semete, uitvoerende hoof van Sahpra, het Donderdag in ’n verklaring gesê Sahpra het die gebruik van die entstof as ’n program spesifiek vir gesondheidswerkers goedgekeur en ’n toegewing is slegs vir die president en sy adjunk, David Mabuza, gemaak. Dit is nie duidelik of Mabuza wel ingeënt is nie en sy kantoor het nie Vrydag op navrae gereageer nie.

Ramaphosa is Woensdag, soos die gebruik wêreldwyd is, ingeënt om vir sy landsburgers die versekering te gee dat die entstof veilig is. Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid en ’n mediese dokter, is ook ingeënt. Dit is nie bekend watter ander leiers vir die inenting oorweeg is nie, maar Gray het bevestig ingevolge die navorsingsprogram se ooreenkoms met Sahpra móét gesondheidswerkers voorkeur kry.

Die enigste LUR wat wel haarself laat inent het, is Gauteng se LUR vir gesondheid, dr. Nomathemba Mokgethi. Mokgethi, wat Woensdagmiddag haar inenting gekry het, het ’n meestersgraad in verpleegkunde en ’n doktorsgraad in letterkunde en filosofie. Haar inenting is op Donderdagmiddag se vergadering van die ministeriële advieskomitee oor entstof gekritiseer.

“Sy is nie ’n gesondheidswerker wat in die voorste linie werk nie,” het ’n komiteelid op voorwaarde van anonimiteit gesê. Mokgethi se woordvoerder het by navraag gesê sy is ingeënt om ’n voorbeeld te stel omdat talle gesondheidswerkers in die provinsie huiwerig is om aan die program deel te neem.

Dr. Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse LUR vir gesondheid, is ook Woensdag ’n inenting saam met Ramaphosa en Mkhize in Khayelitsha aangebied.

Mbombo, wat ook ’n graad in verpleegkunde het, het gesê sy sal liewers haar beurt afwag. “Ek sit meesal op Zoom-vergaderings en op kantoor. Daardie entstof kan liewers vir iemand gaan wat dit nodig het,” het Mbombo Vrydag aan Rapport gesê.

Meer oor:  Glenda Gray  |  Cyril Ramaphosa  |  Covid-19  |  Sahpra
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.