Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Prentjie oor sterftes in 3de vlaag nog nie duidelik

In elke vlaag van die koronaviruspandemie is daar ’n paar veranderlikes wat die uiteindelike sterftesyfer beïnvloed – en dis nog te vroeg om te sê wat die invloed op die derde vlaag sal wees.

Twee belangrike veranderlikes in die huidige vlaag is die Delta-variant en natuurlik die invloed van inentings.

Prof. Susan Goldstein, ’n kenner in openbare gesondheid verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), sê ’n mens sal eers drie weke ná die piek van die derde vlaag ’n duidelike prentjie van die sterftesyfer hê.

Die sterftekoers – dit wil sê die persentasie mense wat aan Covid-19 dood is uit diegene wat positief getoets is vir die koronavirus – was gemiddeld 2,2% in die eerste vlaag en 3,9% in die tweede vlaag. Tydens die derde vlaag was dit op 27 Junie op 3,6% en op 27 Julie op 2,94%.

Die eerste vlaag het drie maande geduur – van begin Junie tot einde Augustus verlede jaar – en die tweede een sowat twee maande – Desember verlede jaar en Januarie vanjaar.

Hoeveel mense hulle laat toets tel ook

Die sterftekoers word ook beïnvloed deur hoeveel mense hulle vir die koronavirus laat toets.

“Aan die begin (van die pandemie) het net mense wat siek gevoel het hulle laat toets. Nou laat toets mense om allerlei ander redes, byvoorbeeld om te reis of om terug te keer kantoor toe. Baie meer (asimptomatiese) mense toets dus positief,” sê Goldstein.

As daar byvoorbeeld 100 mense positief getoets word en twee van hulle sterf, is die sterftekoers 2%. As dieselfde twee mense sterf, maar 1 000 mense is positief getoets, verander die sterftekoers na 0,2%, verduidelik sy.

Suid-Afrika se inentingsprogram is nog ’n veranderlike wat die sterftekoers in die derde vlaag beïnvloed.

Mense van 60 jaar en ouer is meer geneig om aan Covid-19 te sterf. Met die derde vlaag is baie mense in dié ouderdomsgroep reeds ingeënt en word mense in die ouderdomsgroep 50 tot 60 jaar nou sieker. Die sterftekoers onder dié ouderdomsgroep is egter laer, verduidelik Goldstein.

Aan die begin (van die pandemie) het net mense wat siek gevoel het hulle laat toets. Nou laat toets mense om allerlei ander redes, byvoorbeeld om te reis of om terug te keer kantoor toe. Baie meer (asimptomatiese) mense toets dus positief.

Om te bepaal hoeveel mense tydens ’n vlaag dood is, moet daar ook na die oormaatsterftes gekyk word. Hieronder val mense wat hulle nie vir die koronavirus laat toets het nie en wel aan Covid-19 sterf.

In die Wes-Kaap is die aantekeningstelsel vir koronavirusinfeksies en Covid-19-sterftes baie goed, wat beteken dat die oormaatsterftes nie ’n groot verskil aan die amptelike Covid-19-sterftesyfers maak nie, sê sy.

Maar in byvoorbeeld Mpumalanga, met sy baie landelike gebiede, sterf baie mense sonder dat hulle ooit by ’n hospitaal uitkom, sê Goldstein.

Dr. Richard Lessells, groepleier van die KwaZulu-Natal Research Innovation and Sequencing Platform (Krisp), sê ook die heersende variant van die koronavirus tydens ’n vlaag speel ’n rol in die uiteindelike sterftesyfer.

Hy sê een van die redes dat die sterftekoers in die tweede vlaag hoër as in die eerste vlaag was, was moontlik omdat die Beta-variant nie in die eerste vlaag teenwoordig was nie.

Lessells voorspel dat die Delta-variant ’n soortgelyke uitwerking in die derde vlaag kan hê.

“Wat baie moeilik is om uit te werk, is of dit enigsins verband hou met die intrinsieke effek van die variant (verhoogde virulensie) en of dit net is dat die verhoogde oordraagbaarheid (van die variant) lei tot ’n groot getal gevalle oor ’n kort tydperk en intense druk op hospitale en dat dít uiteindelik tot die hoër sterftesyfer lei,” sê Lessells.

Meer oor:  Prof. Susan Goldstein  |  Inentings  |  Covid-Sterftes  |  Delta-Variant  |  Sterftes  |  Covid-19  |  3De Vlaag  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.