Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Projeksies: 13 miljoen gevalle teen November
vooruitskattings
Grafika: Vooruitskattings

Teen November kan daar tussen 12 miljoen en 13 miljoen gevalle van Covid-19 in Suid-Afrika wees. 

Indien geen maatreëls getref is nie, kon daardie syfer moontlik al teen die einde van vandeesmaand ’n werklikheid gewees het.

Waar die Wes-Kaap tans die hoogste infeksiekoers het, lyk dit of Gauteng hom een of ander tyd kan verbysteek en uiteindelik die meeste Covid-19-infeksies in die land kan oplewer.

Dit beteken egter nie die Wes-Kaap kan ontspan nie.

Soos sy infeksiekoers nou lyk, kan dié provinsie eerste die piek van die epidemie bereik en reeds in die eerste week van Junie sy beskikbare getal beddens in waaksale oorskry.

Dit is enkele van die voorspellings wat Donderdag na vore gekom het in die gesondheidsdepartement se simposium oor projeksiemodelle oor hoe Covid-19 homself die res van die jaar kan uitspeel.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het die simposium geopen deur te sê: “Niemand ter wêreld het al die antwoorde nie, maar daar is baie lesse wat ons (uit modelle en projeksies) kan leer en ons kan dit gebruik in ons reaksie op die virus . . . Dit word ons mense se oorlog teen Covid-19, want tensy ons burgers nie self verantwoordelikheid opneem nie, sal ons nie wen nie.”

Teen Donderdagmiddag was daar al 19 137 bevestigde gevalle en 369 sterftes in die land.

Die piek van die epidemie

Dit is reeds bekend dat die inperking nie die virus in sy kiem sou smoor nie, maar die piek van die epidemie aangeskuif het.

Volgens die modelle sal die nasionale piek iewers tussen Augustus en September bereik word.

Sonder enige ingryping sou die piek egter al vandeesmaand voorgekom het, met die getal gevalle op 12 miljoen teen die eerste week van Junie.

Niemand ter wêreld het al die antwoorde nie, maar daar is baie lesse wat ons (uit modelle en projeksies) kan leer en ons kan dit gebruik in ons reaksie op die virus.

Volgens ’n model deur die Covid-19-modelleringskonsortium, in samewerking met die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), kan die getal bevestigde aktiewe gevalle teen November tussen 12 miljoen en 13 miljoen wees.

Die geprojekteerde sterftesyfer is tans iewers tussen 35 000 en 45 000.

Prof. Juliet Pulliam van die DSI-NRF se Centre of Excellence in Epidemiological Modelling and Analysis (Sacema) by die Universiteit Stellenbosch, wat die model verduidelik het, het erken dié model het sy beperkings, wat tot oorskatting kan lei.

Beste en slegste moontlike uitkomste

Die konsortium se model skep ’n optimistiese en ’n pessimistiese scenario, gegewe dat vlak 4 tot 31 Mei volhou en daar kritieke maatreëls soos die behoud van ’n gesonde afstand daarna gevolg word.

Volgens Pulliam gaan elke provinsie op ’n ander tyd sy piek bereik. Die omvang van die piektye, dus hoe groot die vlaag infeksies gaan wees, verskil ook van provinsie tot provinsie.

Hoewel die meeste provinsies ooreenstem met die optimistiese scenario, met die Vrystaat wat selfs beter lyk as die mees wenslike uitkoms, stem die Oos- en Wes-Kaap tans ooreen met die pessimistiese scenario’s, het Pulliam gesê.

Tog lyk dit of Gauteng uiteindelik volgens die heel beste scenario ’n totaal van tussen 300 000 en 400 000 infeksies kan hê, waar die Wes-Kaap dalk nie eens die 200 000-kerf sal oorsteek nie.

Die Wes-Kaap moet egter gereed maak om eerste sy piek te tref, met Gauteng, KwaZulu-Natal en die Vrystaat op sy hakke. Dit lyk of Limpopo en Mpumalanga sowat twee maande ná die Wes-Kaap eers hul meeste gevalle gaan hê.

Te min beddens in waakeenhede

Volgens Pulliam sal die Wes-Kaap vermoedelik sy beskikbare aantal waaksaalbeddens (asook personeel en toerusting) teen die eerste week van Junie oorskry. Die res van die land gaan volgens die model ook later hierdie probleem hê. Tussen 475 000 en 680 000 pasiënte sal vermoedelik teen November al hospitalisasie benodig het.

Daar is volgens die model net-net genoeg hospitaalbeddens in gewone sale vir die geprojekteerde getal pasiënte tydens die piektyd.

’n Ander model deur die ouditfirma Deloitte voorspel dat hospitale byna 60 000 hospitaalbeddens teen Augustus gaan nodig hê om al die pasiënte te versorg. Dit sluit pasiënte in wat nog op uitslae wag.

Volgens Deloitte word ’n skerp styging in die vraag na beddens in waaksale van Junie (1 585) tot Julie (6 232) verwag.

Teen Augustus sal daar moontlik sowat 7 049 beddens in waaksale en 7 499 beddens in die hoësorgeenhede in gebruik wees.

Beramings deur ’n groep gesondheidsaktuarisse van die Aktuariële Vereniging van Suid-Afrika (Assa) steun die waarskuwing oor ’n tekort aan beddens.

Hulle raam net meer as 60 000 hospitaalbeddens gaan nodig wees, mits daar ’n mate van inperking of streng maatreëls in plek is. Daarsonder kan die getal beddens wat benodig word, verdubbel.

Die Assa-model voorspel dat sterftes wat met MIV/vigs, TB en malaria verband hou, in gebiede wat reeds onder groot druk verkeer oor vyf jaar, met onderskeidelik 10%, 20% en 36% kan toeneem, teenoor waar daar geen Covid-19-epidemie was nie. Dis omdat die fokus tans net op Covid-19 is.

ingrype
grafika
sterftes
Grafika

grafika
Grafika
grafika
Grafika

Meer oor:  Koronavirus  |  Vooruitskattings  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.