Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Mense ‘in duister gehou oor wankelrige entstofplan’

Die regering word toenemend gekritiseer oor die stadige pas van inentings in Suid-Afrika, sowel as sy gebrek aan kommunikasie oor sy nasionale inentingsveldtog, wat elke Suid-Afrikaner regstreeks of onregstreeks raak.

Nie net het Covid-19-inentings die vermoë om duisende lewens te red nie, dit is ook belangrik om die samelewing na ’n vlak van normaliteit terug te neem.

Nagenoeg 180 000 gesondheidswerkers, oftewel 0,3% van die Suid-Afrikaanse bevolking, het al inentings ontvang as deel van die inwerkingstellingstudie wat deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) geadministreer word.

Kommer heers oor die moontlikheid van ’n derde vlaag van infeksies wat die land kan tref.

Dit feit dat Suid-Afrika dit slegs kon regkry om ’n paar piepklein besendings van die Johnson & Johnson (J&J)-entstof te bekom en nou ’n skamele 7 000 mense per dag inent, terwyl vergelykbare lande soos Chili en Rwanda tien tot 20 keer meer inent, moet ’n groot bron van skaamte vir ons regering wees.

Prof. Shabir Madhi, dekaan van die departement gesondheidswetenskap aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), het reeds in ’n twiet gewaarsku oor ’n kommerwekkende tendens waarvolgens infeksies in ses van Suid-Afrika se nege provinsies aan die toeneem is.

John Steenhuisen, DA-leier, het vroeër in ’n verklaring gesê die gebrek aan entstof en die beweerde versuim om behoorlik te beplan, is die ANC-regering se grootste mislukking in die demokratiese Suid-Afrika.

“Dit feit dat Suid-Afrika dit slegs kon regkry om ’n paar piepklein besendings van die Johnson & Johnson (J&J)-entstof te bekom en nou ’n skamele 7 000 mense per dag inent, terwyl vergelykbare lande soos Chili en Rwanda tien tot 20 keer meer inent, moet ’n groot bron van skaamte vir ons regering wees,” sê Steenhuisen.

Thami Nkosi, woordvoerder van die Right2Know-veldtog, dink dit is duidelik dat die publiek in die duister gehou word oor die regering se “wankelrige” planne om 40 miljoen Suid-Afrikaners teen die einde van vanjaar in te ent.

“Daar word deurgaans aankondigings gemaak oor hoeveel miljoene dosisse vir die publiek verseker is, maar terselfdertyd word min besonderhede aan die publiek gekommunikeer. Ons sien ook nie dat provinsiale regerings praat oor wat hul planne is nie,” sê Nkosi.

Volgens hom kan die gebrek aan kommunikasie hoofsaaklik daaraan toegeskryf word dat die nasionale Covid-19-bevelsraad onder die nasionale ramptoestand as ’n soort “skaduregering” funksioneer wat besluite oor onder meer inentings moeilik maak.

“Ons weet nie meer waar die sentrale mag is en wie die besluite neem nie, wat dit moeilik maak om mense aanspreeklik te hou. As inligting nie gegee word nie, kan die burgerlike samelewing nie daaroor debat voer nie.”

Daar word deurgaans aankondigings gemaak oor hoeveel miljoene dosisse vir die publiek verseker is, maar terselfdertyd word min besonderhede aan die publiek gekommunikeer. Ons sien ook nie dat provinsiale regerings praat oor wat hul planne is nie.

Die regering het ook nog nie veel gesê oor hoe hy van plan is om die Pfizer/BionTech-entstof teen uiters koue temperature te berg nie en wat sy planne is om te midde van ’n wêreldwye tekort aan spuitnaalde genoeg voorraad daarvan vir Suid-Afrika te verseker nie.

Prof. Alex van den Heever, kenner op die gebied van entstowwe en hoof van die skool van regeerkunde aan Wits, wonder op sy beurt of die regering se gebrek aan kommunikasie dalk daaraan toegeskryf kan word dat daar probleme agter die skerms is.

“Gewoonlik wanneer instellings nie wil kommunikeer nie, het hulle niks om te sê nie of daar is probleme waaroor hulle nie wil praat nie,” sê hy.

Van den Heever is van die beskouing dat pres. Cyril Ramaphosa regstreeks by die inentingsveldtog moet ingryp.

Prof. Glenda Gray, president van die SAMNR, sê die inenting van gesondheidswerkers sou Dinsdag hervat nadat oorwerkte inenters en navorsers die afgelope langnaweek ’n blaaskans geneem het. Geen inentings is toe toegedien nie.

“Ons moet ons spanne laat rus, anders gaan hulle uitbrand.”

Volgens Gray is die pas van inenting boonop onderworpe aan die beperkte voorraad entstof van J&J, wat drupsgewys in verskeie besendings aan die land gelewer word.

Die jongste besending van 66 000 dosisse het Saterdag in Suid-Afrika aangekom.

Van die land se geraamde 1,2 miljoen gesondheidswerkers sal 500 000 na verwagting as deel van die navorsing ingeënt word.

Dr. Lwazi Manzi, woordvoerder van die departement van gesondheid, het Dinsdag navrae verwys na haar kollega Popo Maja, wat nie op die navrae gereageer het nie.

Meer oor:  Shabir Madhi  |  Covid-19  |  Pfizer-Entstof  |  Koronavirus  |  Entstof  |  Entstofplan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.