Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Puk in hospitaal met meningitis; kampus tref voorsorg

Die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) “tref al die nodige voorsorgmaatreëls” nadat ’n hoogs aansteeklike bakteriële meningitis (breinvliesontsteking) by ’n vrouestudent in haar vierde jaar gediagnoseer is.

Die NWU sê in ’n mediaverklaring dat die student Maandag in ’n plaaslike hospitaal opgeneem is en die diagnose Dinsdag bevestig is.

“Die student is nie by ’n koshuis betrokke nie en dit wil voorkom asof dit ’n geïsoleerde geval is,” lui die verklaring.

Die hospitaal en die universiteit tree nou in verbinding met mense met wie die student onlangs nabye kontak gehad het. Gratis voorkomende medikasie is in die kampus se gesondheidsorgsentrum in gebou E16 beskikbaar.

Prof. Daryl Balia, adjunk-visekanselier van die NWU-Pukke, het alle studente en personeel versoek om nie paniekerig te raak nie en op die komende eksamen te fokus. “Die universiteit tref al die nodige voorsorgmaatreëls. Ons sal alle studente en personeel van enige verdere verwikkelinge op die hoogte hou.”

Die student is nie by ’n koshuis betrokke nie en dit wil voorkom asof dit ’n geïsoleerde geval is.

Teen Dinsdagmiddag laat was meer besonderhede oor die siek student nie beskikbaar nie.

Volgens die webwerf van die Instituut vir Oordragbare Siektes (IOS) in Suid-Afrika kan breinvliesontsteking deur ’n virus, bakterie of swam veroorsaak word.

Bakteriële breinvliesontsteking is hoogs aansteeklik en word gewoonlik in die winter veroorsaak deur bakterieë wat algemeen in die neus en keel voorkom. Slagoffers kan vinnig baie siek word of selfs sterf. Dit is belangrik dat lyers dadelik met antibiotika behandel word.

Die bakterie word deur kontak met liggaamsvloeistowwe soos spoeg van mens tot mens oorgedra. Dit kan dus oorgedra word wanneer iemand hoes, nies of as die lyer iemand anders soen.

Die aanvanklike simptome is soortgelyk aan griep, maar dit kan binne ure vinnig vererger. Simptome sluit in ’n hoë koors, erge hoofpyn, nekstyfheid, sensitiwiteit vir helder lig, braking, diarree of maagpyn, pynlike gewrigte, pers veluitslag wat nie verdwyn indien daarop gedruk word nie, koue hande en voete, stuiptrekkings en erge lomerigheid wat tot ’n koma kan lei.

Mense met sulke simptome moet dadelik na ’n dokter, kliniek of hospitaal geneem word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.