Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
R350-toelae onregmatig aan 32 000 uitbetaal

Die Covid-19-verligtingstoelae van R350 vir werkloses is onregmatig aan byna 32 000 mense uitbetaal wat nie daarvoor gekwalifiseer het nie.

Dít het die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) altesaam R11,1 miljoen gekos.

Daarbenewens moes Sassa uitvind dat dieselfde toelae ook onwettig aan 241 staatsamptenare uitbetaal is.

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, het bogenoemde onthul in ’n reeks parlementêre antwoorde.

Lindiwe Zulu Foto: GCIS

Dit volg nadat Gizella Opperman, ’n DA-LP, na aanleiding van ’n spesiale Covid-19-verslag van die ouditeur-generaal (OG) in ’n parlementêre vraag by haar wou weet hoeveel toelaes onregmatig uitbetaal is en hoeveel dit die belastingbetaler gekos het.

Zulu het bevestig dat meer as R11,1 miljoen uitbetaal is deur middel van 31 929 toelaes aan “kliënte” wat nie daarvoor tussen Mei en Julie verlede jaar gekwalifiseer het nie.

“Die toelaes is uitbetaal omdat die inligting wat toe aan Sassa beskikbaar was nie databasisse vir Covid-19-verligting deur ander regeringsprogramme, soos verligting aan sportlui, spazawinkels en plaasboere, ingesluit het nie. Daarbenewens het Sassa ook slegs later in die proses die databasis van korrektiewe dienste ontvang wat inligting oor gevangenes in tronke ingesluit het.”

Dr. Mimmy Gondwe, nog ’n DA-LP, wou in ’n ander parlementêre vraag by Zulu weet watter ander ongerymdhede Sassa ook nog in verband met Covid-19-verligtingsfondse ondersoek.

Volgens Zulu het Sassa in Julie verlede jaar die OG se bevindinge ontvang oor “uitsonderings” rakende die R350-toelae wat in totaal aan 241 staatsamptenare uitbetaal is.

Daardie betalings is egter dadelik gestaak toe dit onder Sassa se aandag gebring is.

BELLVILLE, SOUTH AFRICA - APRIL 30: More the 500 p
Mense wag buite Sassa se kantoor in Belville, Kaapstad. Foto: Gallo Images

Volgens Zulu werk 75 van die betrokke staatsamptenare in die departement van onderwys, 71 in die departement van gesondheid, 45 in die departement van vervoer, terwyl die res oor 16 ander departemente versprei is.

Die betrokke departemente is reeds deur Sassa versoek om tugondersoeke teen die betrokke amptenare in te stel, sowel as om die gelde te verhaal.

Die OG het Sassa ook ingelig dat Covid-19-verligtingsfondse onreëlmatig aan 1 513 direkteurs van maatskappye uitbetaal is. Dit word tans deur verskillende wetstoepassingsagentskappe deur die sogenaamde “fusion”-sentrum ondersoek.

Liesel van der Merwe, ’n IVP-LP, wou by Zulu weet of sy al enige terugvoering van die nasionale tesourie gekry het oor haar departement se versoek om die R350-toelae, wat einde April verstryk het, te verleng.

Volgens Zulu wag sy nog vir uitsluitsel daaroor.

Opperman wou ook weet of die jaarlikse begroting van R190 miljard vir maatskaplike toelaes aan 18,2 miljoen begunstigdes, en die R350-toelae aan 6 miljoen ander, volhoubaar vir Sassa is.

Volgens Zulu is dit volhoubaar.

Sy het bygevoeg ’n meer omvattende stelsel vir maatskaplike sekerheid word egter tans oorweeg wat ’n drieledige stelsel sal skep bestaande uit maatskaplike toelaes, bydraende maatskaplike versekering en vrywillige versekering.

“Dié beleid bevat uitgebreide voorstelle om te verseker dat alle werkende mense, in die formele en informele sektor, versoek of aangeraai sal word om in hul werksjare bydraes te maak sodat hulle voldoende inkomste vir hul aftrede sal hê, vir ongeskiktheid of as hulle te sterwe kom.”

Zulu sê daar sal eers wyd hieroor gekonsulteer word.

Meer oor:  Sassa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.