Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Raad vir sielkunde waarsku oor navorsing en ras
Die Beroepsraad vir Sielkunde waarsku teen die gebruik van sielkundige navorsing of psigometriese toetse om rassestereotipes te laat voortleef. Foto: Pixabay

Die Beroepsraad vir Sielkunde het gewaarsku teen die gebruik van sielkundige navorsing of psigometriese toetse om stereotipes van ras te laat voortleef.

Dié raad, wat onder die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) val, het Donderdag sy kommer uitgespreek oor die gebruik van en verslagdoening oor sielkundige maatstawwe na gelang van die bevindings van ’n onlangse studie oor die kognitiewe vermoë van bruin vroue.

Luidens ’n verklaring het die bevindings in die artikel deur navorsers verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) se departement sportwetenskap ’n uitwerking op die breër samelewing en nie net die deelnemers aan die studie nie.

Die artikel “Age- and education-related effects on cognitive functioning in Coloured South African women” is aan die begin van die maand herroep deur die vaktydskrif Aging, Neuropsychology and Cognition waarin dit aanvanklik verskyn het.

Dit het gevolg nadat vasgestel is dat "ernstige foute in die metodologie en verslaggewing van die oorspronklike studie voorgekom het.

02 Mei 2019 22:18

Volgens die Beroepsraad vir Sielkunde is die geskiedenis van die ontwikkeling en gebruik van metodes en middele vir psigometriese toetse in Suid-Afrika “besmet met die nalatenskap van segregasie”.

Dit het glo sekere stereotipiese houdings en onvanpaste of kultureel onsensitiewe behandelings beïnvloed.

Toetse is egter ontwikkel en word gebruik waar kultuur, diversiteit en konteks behoorlik in ag geneem word, sê die beroepsraad.

“Dit is belangrik dat sielkundige navorsing en psigometriese toetse nie gebruik word om rassestereotipes in ons demokratiese Suid-Afrika te laat voortleef nie.”

Verder behoort sielkundiges toetse, maatstawwe en vraelyste wat met sielkundige konsepte werk, te gebruik, interpreteer en kontroleer om moontlike skade te beperk, sê die beroepsraad.

Sielkundige toetse wat pas by SA

Navorsers word daarop gewys dat dit hul verantwoordelikheid is om seker te maak dat toetse op ’n billike en etiese wyse uitgevoer word en gepas is vir die bepaalde groep.

“Die gebruik van sielkundige toetse wat nie aangepas is vir Suid-Afrika en sy diverse bevolking nie skep ’n gevaar deurdat dit tot verkeerde diagnoses en klassifiserings lei, soos die geval in dié artikel.”

’n Beroep is ook op etiekkomitees gedoen dat die regulasies oor etiese navorsing nagekom word wanneer etiese klaring toegestaan word, anders bestaan die gevaar dat geregistreerde beroepslui van onprofessionele gedrag aangekla kan word.

Die samevatting van die artikel noem dat bruin vroue in Suid-Afrika ’n groter risiko vir “lae kognitiewe funksionering” het, wat glo saamval met “lae onderwysvlakke en ’n ongesonde leefstyl en gedrag”.

’n Groep van 60 vroue van 18 tot 64 jaar op Stellenbosch het aan die studie deelgeneem, waar hul denkvermoë en die verband met ouderdom en onderrig nagegaan is.

Die studie het ’n afname in kognitiewe funksionering gevind namate die vroue ouer raak, “met lae tellings vir verwerkingspoed wat reeds by jong volwassenes waargeneem is”.

Dit is geskryf deur vyf studente van die departement sportwetenskap, wat sedert Januarie 2019 deel is van die fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe.

Die US het in April onvoorwaardelik om verskoning gevra vir die “pyn en lyding” wat die navorsingsartikel veroorsaak het.

’n Ondersoek na die studie is toe begin.

Meer oor:  Rassisme  |  Ras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.