Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Ramaphosa kom nie nou in Bloem, PE oor Covid-19 praat

Die regstreekse gesprekke met pres. Cyril Ramaphosa wat op 31 Maart op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein sou plaasvind, asook die een later in Port Elizabeth, waarvan Rapport ’n mede-aanbieder is, is onbepaald uitgestel.

Pres. Cyril Ramaphosa

So sê Liezel de Lange, besturende redakteur van Rapport. Dit volg nadat Ramaphosa Sondag aangekondig het dat nie meer as 100 mense op enige byeenkoms mag wees nie weens die uitbreking van die koronavirus.

Thabo Meeko, Vrystaatse ANC-woordvoerder, sê die ANC in die Vrystaat ondersteun die voorsorgmaatreëls teen die verspreiding van die koronavirus soos wat die president Sondag op TV afgekondig het.

“Die uitvoerende komitee van die Vrystaatse provinsiale regering het ook Maandag vergader om te besluit hoe sittings van die Vrystaatse provinsiale wetgewer, stadsraadsvergaderings en ANC-konferensies en -byeenkomste nou hanteer moet word.”

In Bloemfontein vergader die Mangaung-metro wel Woensdagmiddag. Die speaker, Mxolisi Siyonzana, hoop minder as 100 mense gaan opdaag.

Meeko sê die Vrystaat het sy eie omstandighede en daarom gaan gekyk word hoe die maatreëls ook vir die provinsie se mense die beste van toepassing gemaak kan word.

Komm. Mandisa Makesini, Vrystaatse EFF-leier, sê die EFF gee aan Ramaphosa se versoeke gehoor en sal ook geen politieke vergaderings en ander byeenkomste hou waar meer as 100 mense byeenkom nie.

“Ons het ook ons optog na Eskom op 27 Maart weens die koronavirus onbepaald uitgestel om verspreiding te voorkom. Ons gaan mekaar ook in die gees van ubuntu inlig en bystaan wanneer die siekte versprei. Vir eers gaan ons net bewusmaking by mense kweek.”

Dr. Annelie Lotriet, DA-LP en Vrystaatse voorsitter van die DA, sê die party se beleidskonferensie wat die naweek saam met die Noordwes-provinsie in Parys in die Noord-Vrystaat gehou sou word, is vir eers uitgestel.

“Ons hou by die voorskrifte wat die president neergelê het in sy aankondiging Sondagaand en ons laat ons op nasionale vlak lei. Ons hou almal ook al geruime tyd ingelig met die inligting wat Mariëtte Pittaway, DA-LPW en DA-woordvoerder vir gesondheid in die Vrystaat, vir ons gee.”

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, sê hy en sy seun sou in die skoolvakansie op ’n spesiale pa-en-seun-vakansie na die buiteland vertrek het, maar dit is eers uitgestel. “My hart is baie seer hieroor.”

Ons hou by die voorskrifte wat die president neergelê het in sy aankondiging Sondagaand en ons laat ons op nasionale vlak lei.

Tammy Wessels, VF Plus-LP en Bloemfonteiner, sê die VF Plus se sosialemedia-span, in samewerking met hul nasionale woordvoerder oor gesondheid, Philip van Staden, voer aktiewe veldtogte op alle sosialemedia-platforms om te verseker dat die publiek die regte inligting kry, op die hoogte van die stand van sake is, weet hoe om hulself en hul families te beskerm, en ook om te weet wat om te doen indien hulle simptome toon.

Sy sê Van Staden het reeds verlede week ’n gesprek met die minister van gesondheid gehad waarin hy die VF Plus se standpunt gehuldig het dat alle sport- en ander groot byeenkomste uitgestel moet word totdat die virus onder beheer is.

“Ons verwelkom die regering se proaktiewe optrede, maar is egter bekommerd oor die ekonomie en die uitwerking van Covid-19 daarop.

“Die hou van tussenverkiesings is nie in ons hande nie, maar in die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) s’n. Die OVK het reeds laat weet dat hulle dringend kieshof toe gaan om die wetlike implikasies van uitgestelde tussenverkiesings te ondersoek.”

Sy sê die party maak seker dat sy eie werknemers ook beskerm is deur die nodige maatreëls in te stel om byvoorbeeld nie onnodige reise aan te pak nie en om kantore higiënies te hou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.