Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Opsporing van kontakte móét verbeter - Cyril

Suid-Afrika spoor tans net twee mense per persoon op wat positief getoets is vir Covid-19.

Die ideaal is om soos Suid-Korea gemiddeld minstens 20 mense op te spoor wat kontak met ’n pasiënt gehad het, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Cyril Ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa Sondag tydens sy aanlyn vergadering met die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum. Foto: Presidensie

Hy het Sondagmiddag in ’n aanlyn vergadering met die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) gewaarsku daar kan in die volgende ses weke ’n “eksponensiële styging in infeksies” wees.

Al word net ’n klein persentasie van die mense siek, kan dit maklik – soos in ander wêrelddele – die land se gesondheidstelsel oorweldig.

Die president het toegegee die opsporing van mense wat kontak gehad het met dié wat die virus onder lede het, is Suid-Afrika se swak plek.

Dit is belangrik dat dié sogenaamde kontakopsporing móét verbeter om te keer dat die virus nie te vinnig versprei nie.

Hy sê spesiale ingrypings sal in die brandpunte – sewe van die agt metro’s in die land, sowel as sekere distriksmunisipaliteite in die Wes-Kaap, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal – gedoen word om die uitbreking daar in toom te hou.

Oorspronklik was die plan om dié brandpunte op ’n hoër vlak te hou, maar dit sou onprakties wees.

“Dis byvoorbeeld moeilik as Ekurhuleni (Gauteng) op vlak 4 gehou word en die res van die provinsie is op vlak 3, omdat daar mense is wat tussen plekke reis.

“Daarom sal die fokus nou selfs nog meer plaaslik en gefokus wees. Daar sal eers ander ingrypings in dié gebiede gedoen word.”

Ramaphosa sê meer as 27 000 beddens in hospitale landwyd is gereed om vir Covid-pasiënte gebruik te word. Hy gee toe dit is te min en ’n rede tot kommer, omdat tot 35 000 beddens later nodig kan wees.

In veldhospitale is plek vir 13 000 pasiënte en dit kan vermeerder word indien nodig.

Ramaphosa sê die getal infeksies in die land verdubbel gemiddeld elke 12 dae.

In die Wes-Kaap, waar 65% van die land se Covid-pasiënte is, verdubbel die infeksie elke nege dae.

Meer as 700 000 mense in Suid-Afrika is al getoets.

Suid-Afrika toets baie meer mense as enige ander land in Afrika, maar dit is nie iets wat ons uitbasuin nie.

“Suid-Afrika toets baie meer mense as enige ander land in Afrika, maar dit is nie iets wat ons uitbasuin nie.”

Die president het aan die redakteurs gesê hy het vandeesweek as voorsitter van die Afrika-Unie met China se pres. Xi Jinping gepraat en dié land om hulp gevra.

China sal elke maand 30 miljoen toetstoestelle, 10 000 asemhalingstoestelle (ventilators) en 80 miljoen gesigmaskers na Afrika stuur.

Dié toerusting sal vanuit Johannesburg en Addis Abeba, hoofstad van Ethiopië, na die res van die vasteland versprei word. Die Suid-Afrikaanse Lugdiens sal ook betrokke wees.

Ramaphosa sê die land se gesondheidstelsel moes weens die pandemie voorberei word om enigiemand te kan help – ongeag of hulle kan betaal of nie.

“Dít kan gesien word as die ontstaan van die nuwe nasionale gesondheidsversekering (NGV). Die doel van die NGV sal juis wees om mense toegang tot gesondheidsorg te gee, ongeag of hulle kan betaal of nie.”

Ramaphosa sê nog ’n gevolg van die pandemie is dat dit die inwerkingstelling van die regering se distriksontwikkelingsmodel sal versnel.

Die doel met dié model is om die drie vlakke van regering – nasionaal, provinsiaal en plaaslik – beter te laat saamwerk.

Dit sal ook help om die “silo’s” waarin in die regering tans werk af te breek.

Meer oor:  Sanef  |  Cyril Ramaphosa  |  Covid-19  |  Gesondheid  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.