Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Ramptoestand wéér verleng

’n Dag voordat die nasionale ramptoestand sou verstryk, het die kabinet Woensdag op ’n vergadering besluit om dit vir die soveelste keer met ’n maand te verleng.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het Woensdag in die Staatskoerant die verlenging van die ramptoestand tot 15 November bekragtig.

Dit volg nadat dr. David Nabarro, die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se spesiale gesant oor Covid-19, onlangs ’n beroep op wêreldleiers gedoen het om inperkings nie as die primêre metode teen die pandemie te gebruik nie. Volgens hom moet inperkings hoogstens as ’n tydelike maatreël geld.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma. Foto: Argief

Die nasionale ramptoestand in Suid-Afrika stel sedert einde Maart die regering in staat om regulasies uit te reik om die land in te perk en om op die pandemie te reageer.

John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, het vroeër die week in ’n verklaring ’n beroep op die regering gedoen om nie weer die ramptoestand te verleng nie.

“Suid-Afrika se uitgerekte inperking moet dadelik en heeltemal opgehef word. Suid-Afrika se epidemiologiese modelle het die omvang van die Covid-10-risiko erg oorskat,” sê Steenhuisen.

Volgens hom ondermyn die ramptoestand die demokrasie, oorsig en beleidsekerheid. Hy sê vlak 1 van die inperking knou steeds die ekonomie en hou nie enige voordele in nie.

Intussen het Leopold Scholtz, ’n politieke ontleder wat in Nederland woon, Woensdag aan Netwerk24 gesê al hoe strenger maatreëls word in Europese lande ingestel terwyl groot dele van dié vasteland ’n toename in infeksies ondervind.

“Vanaf 22:00 in Nederland mag mense slegs voorbereide kos by eetplekke gaan haal om by die huis te gaan eet, en die aantal mense by eredienste word tot 30 beperk.

“In Antwerpen in België is ’n aandklokreël om 22:00 van toepassing en streng maatreëls geld ook in Frankryk en Italië. In Duitsland is die maatreëls wel minder streng.”

Scholtz wys daarop dat Swede wel sy burgers net gevra het om die maatreëls daar vrywillig na te kom, maar volgens hom werk die strategie omdat die Swede gehoorsaam is aan hul regering.

“In teenstelling hiermee luister Suid-Afrikaners nie tot dieselde mate na die owerhede nie. Tog sukkel die Suid-Afrikaanse regering waarskynlik in elk geval om die ramptoestand in plekke soos townships af te dwing,” sê Scholtz.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.