Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Regering doof vir pleidooi oor AZ

Suid-Afrika gaan nie naastenby genoeg mense ingeënt hê teen Covid-19 voordat ’n derde golf infeksies die land tref nie.

Dit terwyl die regering steeds sukkel om ’n miljoen dosisse AstraZeneca-entstof te verkoop wat volgens ’n topwetenskaplike ’n halfmiljoen mense van ernstige siekte en sterftes kan red.

Prof. Shabir Madhi, dekaan van Wits se mediese fakulteit wat die plaaslike navorsing oor die AstraZeneca (AZ)-entstof gelei het, het die afgelope week verskeie beroepe op die regering gedoen om die AZ-entstowwe toe te dien. Die regering het die entstowwe van Indië aangekoop, maar besluit om dit nie te gebruik nie nadat Madhi se studie gewys het dit is baie minder doeltreffend teen 501Y.V2, oftewel die Suid-Afrikaanse variant, as teen die oorspronklike virus.

Dié entstof keer nie dat die variant versprei of mense ligte simptome kry nie, maar dit kan ernstige siekte en sterftes keer, voer Madhi aan. Verskeie ander entstowwe is ook minder doeltreffend teen die variant, maar verhoed hospitalisasie en sterftes.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) moedig lande steeds aan om die AZ-entstof te gebruik.

Dit verval nou eers in Julie.

Volgens Madhi het sy studie gefokus op jonger, gesonde mense, terwyl daar “biologies geloofwaardige redes” is om te glo dat dit doeltreffend is teen ernstige simptome en sterftes, het hy die afgelope week op verskeie platforms gepleit. Planne om die AZ-entstof vir Madhi te gee vir verdere studie is ook van die baan.

Die regering is vasbeslote om die AZ-entstof, waarvoor hy $5,25 per dosis betaal het, te verkoop.

Dr. Sandile Buthelezi, direkteur-generaal van gesondheid, het Vrydag op ’n portefeuljekomiteevergadering gesê Denemarke en die Dominikaanse Republiek wou dit koop, maar Suid-Afrika wil dit aan Afrikalande bied.

Buthelezi het LP’s gerusgestel oor die vervaldatum van die entstof waaroor daar vroeër groot omstredenheid was. Dit is ná toetse uitgestel van 21 April tot Julie.

Onderhandelings met die AU oor die AZ-entstof sloer nou al amper ’n maand. ’n AU-bron sê hulle is nie bereid om $5,25 per dosis te betaal as hulle dit elders vir $3 kan kry nie.

Suid-Afrika is ’n middel-inkomste-land en moes meer daarvoor opdok.

Buthelezi en Popo Maja, gesondheidswoordvoerder, hou vol dit sal teen die koopprys verkoop word.

“Die verkoopooreenkoms is in die laaste stadium van finalisering,” sê Maja.

Die departement se onwilligheid om die AZ-entstof te gebruik skep ook probleme met toekomstige lewering. Luidens ’n Covax-dokument is Suid-Afrika veronderstel om 2,4 miljoen AZ-entstofdosisse te kry. Maja sê hulle onderhandel met Covax om dit met entstowwe van Johnson & Johnson (J&J) en Pfizer te vervang.

Die J&J ($10 per dosis)- en Pfizer ($6,75)-entstof is aansienlik duurder, wat beteken Suid-Afrika kan minder as die verwagte dosisse kry. Intussen word 117 000 Pfizer-dosisse van Covax vandeesmaand verwag.

Gevra hoekom die regering nie maar die AZ-entstof gebruik nie, het Maja gesê groot hoeveelhede J&J- en Pfizer-entstof kom van April aan vir fase twee van die entstofprogram.

Prof. Salim Abdool Karim van die ministeriële advieskomitee het in ’n onderhoud met The Sowetan gesê Suid-Afrika se entstof-vooruitsigte sal nie ’n impak hê op infeksiesyfers tydens ’n derde golf nie. Hy voorspel die derde golf sal die land teen Junie tref, maar die departement vrees dit kan reeds einde April gebeur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.