Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Regering gee weer die groen lig vir J&J-entstof

Die regering sal die toediening van die Johnson & Johnson- (J&J) entstof teen Covid-19 aan gesondheidswerkers Woensdag hervat, sê verskeie bronne in die ministeriële advieskomitee oor entstof.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Woensdag aangekondig die regering hef die toediening van die J&J-entstof as voorsorgmaatreël op.

Byna 300 000 uit die beplande halfmiljoen gesondheidswerkers is reeds as deel van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) se kliniese studie Sisonke met die J&J-entstof ingeënt.

Dié besluit is geneem nadat die Amerikaanse regering besluit het om die toediening van die J&J-entstof tydelik te staak omdat ses vroue uit nagenoeg 6,8 miljoen bloedklonte en lae bloedplaatjievlakke ontwikkel het nadat hulle dié inenting gekry het. Een van dié vroue is dood en nog een is in die waakeenheid opgeneem.

Dit wys die regering tree dadelik op en probeer niks wegsteek nie.

Prof. Glenda Gray, president van die SAMNR, sê die J&J-entstof bly die beste opsie vir Suid-Afrika omdat dit doeltreffend is teen die Suid-Afrikaanse variant van die virus (501Y.V2). Volgens haar was dit ’n verantwoordelike besluit om die toedienings vir eers te staak.

“Dit help ook om te sien hoe ongeduldig mense was toe ons die toedienings moes staak, want dit wys Suid-Afrikaners is gretig om die entstof te kry,” sê Gray.

Die SAMNR het Vrydag in ’n verklaring gesê tot op hede het nog net 2,2% van die gesondheidswerkers wat reeds die entstof ontvang het newe-effekte aangemeld.

Slegs 134 mense (0,5% van gesondheidswerkers wat reeds ingeënt is) moes ’n hospitaal of nooddienste besoek vir verdere evaluering.

“Die meeste van die aangemelde gevalle was geringe of sistemiese reaksies. Een persoon het ’n ernstige allergiese reaksie opgedoen . . . maar (het) sedertdien vinnig en volledig herstel,” lui die verklaring.

Volgens die SAMNR is voorvalle van geringe trombo-embolie opgemerk, waar bloedklonte vorm en na ’n ander deel van die liggaam reis en ’n bloedvat blokkeer, maar nie een van hierdie voorvalle kan verbind word met die voorvalle wat in Amerika aangemeld is nie.

Prof. Barry Jacobson, hematoloog verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), sê egter die staking van die entstof is ’n storm in ’n glas water.

“Jou kanse om deur weerlig getref te word is baie groter as om bloedklonte as gevolg van ’n entstof te kry,” het Jacobson op ’n webinaar van Business for South Africa gesê.

“Jou kanse is 100 keer groter om bloedklonte as gevolg van Covid-19 op te doen. J&J bly ’n baie goeie entstof.”

Jacobson meen die regering moes nie sy program gestaak het nie, omdat dit gestalte gee aan samesweringsteorieë teen entstof.

Verskeie kenners met wie Rapport gesels het, sê egter die regering se optrede wys hulle neem entstof ernstig op.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, sê deur die proses eers te staak en van sy feite seker te maak, skep die regering vertroue in die proses, eerder as wat hy wantroue saai.

“Die regering se besluit om die toediening van die entstof tydelik te staak is die regte een,” beaam prof. Alex van den Heever, hoof van die skool vir regeerkunde by Wits.

“Dit behoort juis vertroue in te boesem onder mense wat bekommerd is oor entstof, want dit wys die regering tree dadelik op en probeer niks wegsteek nie.”

Dit kan dalk lyk asof die regering oorhaastig was om die entstofprogram met J&J tydelik te staak, maar hulle volg juis ’n oorversigtige benadering, sê dr. Sabeehah Vawda, patoloog by die nasionale gesondheidslaboratoriumdiens en verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat.

“Daar is risiko’s en moontlike newe-effekte met enige mediese ingryping en enige nuwe komplikasie, ongeag hoe skaars, moet ondersoek word,” sê Vawda.

“Dit is belangrik om vas te stel of daar ’n verband tussen die komplikasie en die entstof is en hoe algemeen dit sou wees.”

Gesondheidsowerhede kan sulke inligting ook gebruik om entstofprogramme te verfyn, sê prof. Willem Hanekom, hoof van die Africa Health Research Institute.

Meer oor:  Glenda Gray  |  Zweli Mkhize  |  J&J-Entstof  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.