Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
'Regering het nie ander keuse as om regulasies te verslap'

Suid-Afrikaners wag op hete kole om te hoor of die land vandeesweek na vlak 2 gaan skuif nadat verskeie bronne laat blyk het dat die kabinet dit oorweeg.

Die regering het eintlik geen ander keuse as om die regulasies verder te verslap nie – en hy moet dit gou doen.

So sê die politieke ontleder Theo Venter, verbonde aan die Noordwes-Universiteit, ná toenemende mediaberigte dat die regering dalk vandeesweek nog die land na vlak 2 van die inperking kan neem.

“Die gees onder Suid-Afrikaners oor die inperking is besig om negatief te raak en met volgende jaar se munisipale verkiesing om die draai, wil die regering nie stemme verloor nie. Boonop word die tol wat die inperking op die ekonomie eis, net te groot,” sê Venter.

BusinessDay berig die kabinet oorweeg voorstelle om die land na vlak 2 te laat beweeg en om die verbod op alkohol en tabakprodukte op te hef.

As die kabinet die groen lig vir die voorstelle gee, is die verwagting dat pres. Cyril Ramaphosa die land nog vandeesweek daaroor sal toespreek. Tyrone Seale, woordvoerder van die president, het by navraag gesê hy gaan nie op gerugte reageer nie.

Die gees onder Suid-Afrikaners oor die inperking is besig om negatief te raak en met volgende jaar se munisipale verkiesing om die draai, wil die regering nie stemme verloor nie.
Theo Venter

Flip Buys, uitvoerende hoof van die Solidariteit-beweging, sê egter dit is nie duidelik wat vlak 2 sal behels nie omdat die regering sedert Mei aansienlik van sy oorspronklike planne afgewyk het.

Hy sê diegene wat nog die ergste deur die regulasies beperk word, sluit in die gimnasium-, tabak-, alkohol-, gasvryheids-, restaurant-, lugvaart-, reis- en vervoerbedryf.

“Omdat dié bedrywe nie optimaal funksioneer nie, het dit ’n uitkring-effek op ander bedrywe wat deel van die ekonomiese waardeketting uitmaak. Die staatsdiens funksioneer boonop nog nie soos hy moet nie, wat ook verskeie bedrywe negatief raak.”

Van die groot beperkings op die beweging van mense wat nog geld, is onder meer die aandklokreël, interprovinsiale reis vir plesier, om vir vriende en familie te gaan kuier en strande te besoek.

'n Forum van die direkteurs-generaal van die nasionale departemente het Sondag byeengekom en by die nasionale bevelsraad aanbeveel dat feitlik alle sektore van die ekonomie heropen word buiten plekke met 'n samedromming van mense. Die handhaaf van gesonde afstande, die was van hande en die dra van maskers sal steeds geld, berig BusinessDay. 

Indien die bevelsraad die aanbeveling aanvaar en dit deur die kabinet bekragtig word, kan pres. Cyril Ramaphosa voor einde vandeesweek reeds die land se mense toespreek oor die verslapping van maatreëls na vlak 2. Die nasionale ramptoestand eindig Saterdag en 'n aankondiging daaroor word dus voor dan verwag. 

Phumla Williams, kabinetswoordvoerder, en verskeie ander regeringsbronne het nie Woensdag op navrae reageer oor hoe lank Suid-Afrikaners moet wag vir regulasies om verslap te word nie. 

John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, het Woensdag in ’n verklaring ’n beroep op Ramaphosa gedoen om onder meer die ramptoestand op te hef en die ekonomie ten volle te heropen.

“Suid-Afrika se daaglikse infeksiekoers neem af en verlaag die druk op die openbare gesondheidstelsel. Terwyl ’n mens nie op jou louere mag rus nie, is dit genoeg rede om ons ekonomie ten volle te heropen. Dit moet dadelik gebeur.”

Al staar ’n tweede vlaag van Covid-19 die land in die gesig, meen Steenhuisen dat Suid-Afrikaners nie nog maande en jare lank vir die virus kan wegkruip nie terwyl mense se lewensbestaan verwoes word.

Cas Coovadia, uitvoerende hoof van Business Unity South Africa (Busa), het by navraag gesê die regering het weens die verwoestende uitwerking van die inperking op die ekonomie geen ander keuse as om die inperkings op te hef nie.

Matthew Parks, parlementêre koördineerder van die vakverbond Cosatu, sê hulle gaan Donderdag in ’n voorlegging aan Ramaphosa vra dat die verbod op die verkoop van alkohol opgehef word en dat restaurante toegelaat moet word om drank saam met hul etes voor te sit.

Suid-Afrika se daaglikse infeksiekoers neem af en verlaag die druk op die openbare gesondheidstelsel. Terwyl ’n mens nie op jou louere mag rus nie.
John Steenhuisen

Cosatu sal egter ook voorstel dat die regering alkoholverkope streng reguleer sodat hospitale nie die risiko loop om deur alkoholverwante traumagevalle oorval te word nie.

Sinenhlanhla Mnguni, voorsitter van die Fair Trade Independent Tobacco Association (Fita), sê hoewel die regering nie met hulle in verbinding was oor die moontlikheid dat die verbod op tabakprodukte opgehef word nie, sal hy nie verbaas wees as dit gebeur nie.

“Die openbare mening is besig om teen die regering te draai en dit sal hom dalk dwing om die verbod op te hef,” sê Mnguni.

Mandlakazi Sigcawu, ’n woordvoerder van British American Tobacco Suid-Afrika (Batsa), wou ook nie kommentaar lewer nie. 

Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro, het in ’n verklaring gesê daar moet dringend ingegryp word by die Suid-Afrikaanse wynbedryf, wat ook wyntoerisme insluit, om die bedryf van ondergang te red.

“Baie wynondernemings het reeds weens die vorige en huidige handelsbeperkinge gesluit, en die res van die bedryf sal nie ’n volgehoue alkoholverbod oorleef nie. Dit sal duisende werknemers sonder ’n inkomste, moontlikhede of hoop laat.”

Meer oor:  Flip Buys  |  Theo Venter  |  Cyril Ramaphosa  |  Verslapping  |  Inperkingsmaatreëls  |  Vlak 2
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.